Bible Society of South Africa

Doelwitte en voornemens: Blydskap – 3 Februarie 2022

Deur Charlea Sieberhagen-Grey

Bybelteks(te)

1 TESSALONISENSE 5

16Wees altyd bly. 17Bid gedurig. 18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

1 TESSALONISENSE 5:16-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Og dis darem maar lekker as ’n mens gelukkig voel. As ’n mens werklik geluk en blydskap ervaar. Dink bietjie terug aan iets wat jou onlangs régtig bly laat voel het. Dalk het jy goeie nuus ontvang by die werk of by jou dokter? Dalk kon jy tyd deurbring saam met familie wat jy baie lanklaas gesien het weens al die uitdagings wat Covid-19 die afgelope twee jaar oor ons pad gebring het? Dalk was dit doodgewoon ’n enorme stuk koek en ’n koffie saam ’n vriendin wat jou dolgelukkig gemaak het…

Tog is die lewe nie een lang vreugdestog nie.

Ja, ons ervaar dalk oomblikke van pure blydskap maar dit is dikwels van korte duur aangesien die lewe dikwels druk. En ons almal het ons eie struikelblokke wat die lewe uitdagend maak. Met tye voel die lewe gewoon sleg – veral as mens angstig raak oor finansies of gesondheid of in die middernagtelike ure wakker lê en bekommer oor ons geliefdes se veiligheid of welstand. Dan is dit nie so maklik om bly te wees soos wat daar in die Bybel geskryf staan nie.

In Galasiërs 5:22 word daar ook geskryf dat ons “bly” sal wees as die Heilige Gees ons lewens regeer: “Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly. . .”

Ek kan tog nie help om hierdie verse te hoor en te glo dat blydskap, dankbaarheid en gebed meestal hand aan hand gaan nie. Dit voel eintlik vir my asof die een nie regtig sonder die ander een kan nie.

Ek het myself al dikwels bevind dat ek diep bedroef voel oor die lewe. En dis gewoonlik ná my ma vir my gepreek het oor al die dinge waarvoor ek wel kan dankbaar wees, dat my perspektief begin verander het. (Beslis nie onmiddellik nie! Dit vat maar gewoonlik ’n rukkie se wroeging om my gedagtes om te swaai.) Maar sodra ek my fokus verskuif het, probeer ek om vir God dankie te sê vir die klein dingetjies waaroor ek régtig dankbaar is.

Dit kan dalk simpel klink, maar om dankie te sê vir die dinge wat jy so maklik as vanselfsprekend aanvaar, soos om te kan sien, om te kan hoor, om te kan loop, om te kan praat, om te kan opstaan en werk toe gaan, of om iets te hê om te eet, verander regtig ’n mens se perspektief. Vir my maak dit beslis ’n verskil, so ek werk deur my dankie-lysie elke oggend op pad werk toe, sodat ek dit nie vergeet nie.

Dalk gaan blydskap soos die Bybel daarna verwys, in elk geval ook daaroor om tevrede te wees en waardering te hê vir die wonderlike dinge wat God elke dag in ons lewens doen, ten spyte van die storms wat ons soms so kan rondruk.

Gebed: Baie dankie Here vir die ongelooflike dinge wat U elke dag in my lewe doen. Dankie dat U voorsien en sorg, selfs al voel dit soms of die lewe oorweldigend is. Help my om die klein vreugdes en seëninge in my lewe raak te sien sodat ek kan onthou om bly te wees, net soos U wil hê ek moet. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS