Doelwitte en voornemens: Ons almal wil beter wees – 1 Februarie 2022
Deur Charlea Sierberhagen-Grey
Bybelteks(te)
GALASIËRS 5
Januarie is skaars verby en jou nuwejaarsvoorneme is miskien lankal vergete. Dalk voel jy jou nuwe dieet en oefenprogram het klaar dramaties in die hek geduik so waarom aanhou probeer?
Maar dalk het jy net gister nog gesê: “Dis Maandag, vándag begin ek oor!” Of dalk het jy vanoggend opgestaan en besluit – 1 Februarie is ’n veel beter tyd om oor te begin want Januarie voel eintlik nog so liggies soos vakansie…
Tog is een ding seker: Elke jaar, tussen 1 Januarie en 1 Februarie probeer ons om oor te begin. Ons begin beplan aan die nuwe jaar wat voorlê en ons stel doelwitte of maak nuwe voornemens oor die dinge wat ons dié jaar nuut of anders gaan doen. Soms skryf ons dit neer, soms bly dit net in ons gedagtes sonder dat ons dit aan die res van die wêreld verkondig.
En hoewel ons almal se voornemens vir die nuwe jaar kan verskil, glo ek daar is een ding wat ons almal saambind – ons almal wil beter wees, of ons wil iets beter doen. Of dit nou is dat jy vroeër wil opstaan, meer georganiseerd wil wees, of gesonder wil eet, jy wil iets in jou lewe beter doen as voorheen. En met daai een klein dingetjie, daai een klein aanpassing of verandering, wil jy daarna streef om op een of ander manier ’n beter mens te wees.
In die Bybel is daar so baie riglyne oor hoe ons die lewe moet aanpak om beter te wees. En ja, soms kan dit oorweldigend voel. Tog was daar nog altyd die stukkie in Galasiërs 5 wat op so ’n eenvoudige manier nege wonderlike eienskappe uiteensit waarna ons moet streef. Nege eienskappe wat ons kan help om ons lewe te rig – om ons nuwejaarsvoorneme en doelwitte te rig.
En as ons konsentreer op die sogenaamde “vrug van die Gees” en selfs net daarop fokus om een goeie eienskap op ’n slag te kweek, sal ons nie anders kan as om beter te wees as in die verlede nie.
So, hoekom spring ons nie sommer die week daarmee weg nie? Dis immers 1 Februarie – die perfekte tyd vir oorbegin.
Gebed: Hemelse Vader, vat my hand hierdie jaar en help my om waarlik ’n beter weergawe van myself te word. Help my om die mens te word wat U weet ek kan wees en wat U graag wil hê ek moet wees. Fokus my gedagtes en my oorbegin op so ’n manier dat ek u Naam kan verheerlik, oral waar ek gaan. Amen