Bible Society of South Africa

Die pad van verlossing – 25 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

ROMEINE 8:29-30AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit vat nie groot wysheid om te sien dat die wêreld waarin ons nou lewe, ontspoor het nie. Die mens en sy eie begeertes dra so baie by tot oorlog, geweldsmisdade, en selfs klimaatsverandering. ‘n Mens hoef nie eens ‘n diep gelowige mens te wees om iets te beleef van ‘n stryd tussen goed en kwaad, reg en verkeerd nie.

As gelowige mense glo ons dat God die aarde goed gemaak het. Die oorspronklike plan vir die aarde was ‘n ruimte waarin die mens in harmonie met God, en met sy medemens kon lewe. Ons is volgens Genesis 1:26-27 gemaak na God se beeld, om sy wêreld te bestuur volgens sy beginsels. Met die sondeval in Genesis 3 het die mens se wil en begeertes belangriker as God se plan geword. Waar mense maak soos hulle wil, kry ander seer in die proses.

Die Here het ons nie gelos net soos ons is nie. Romeine 8:3 sê dat Hy sy Seun in die gestalte van ‘n mens gestuur het om met die sonde af te reken. Sonde is alles wat buite God se wil val.

Deur geloof in Jesus word ons God se kinders, het ons in Romeine 8:14 gesien. Die Heilige Gees het ons kom roep om terug te kom na ons verhouding met God. Hy werk in ons lewens, Hy wil ons verander, terug na die Ontwerperspesifikasies toe. Hoe lyk dit? Om gelykvormig aan sy Seun te wees – ons rolmodel is om soos Jesus te wees. Gehoorsaam aan God, vol van sy liefde, vredemakers.

Die Here het ons gekies om sy kinders te wees. Hy het ons geroep deur die Heilige Gees: “kom, Volg My!” Wanneer ons op die roepstem geantwoord het, het Hy ons nuwe mense gemaak. Dit het begin met sy vryspraak, om ons te vergewe van alles in die verlede waar ons buite sy wil opgetree het. Hy het ons hele wese kom verander, van verlore sondaar tot koningskind. En Hy het ons kom verheerlik, om al meer en meer die beeld van Jesus in hierdie wêreld uit te straal as kinders van God.

Dis wat die Here vir ons bied – ‘n nuwe lewe deur geloof in Jesus. ‘n Lewe wat verander, al minder van die ou mens wat sonder God self probeer regkom. Al meer die nuwe mens, wat daagliks meer soos Jesus begin lyk, beeld van God om sy liefde en sy vrede as lig in hierdie donker wêreld te laat skyn. God maak die stukkende wêreld heel. Hy begin by sy kinders. Dan gebruik Hy ons as sy medewerkers, om saam met Hom ‘n verskil te maak in die mense rondom ons se lewe.

Gebed: Here Jesus, ek is gemaak na u beeld. My eie koppigheid het daardie beeld so verwring. Dankie dat U nie opgegee het op my nie. Hou aan om my te herskep na u beeld. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS