Die Here is met ons in ons swaarkry – 26 Oktober 2022
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie
Dit is vir ons so belangrik om te onthou waarmee God in ons lewe besig is. Romeine 8:31 sluit aan by die proses wat ons gister in vers 30 gesien het. God het ons geroep, en vrygespreek. Hy is besig om ons lewens na die beeld van sy Seun te transformeer, Hy is besig om ons te verheerlik. Ons is God se kinders!
Maar ons leef steeds in ‘n stukkende wêreld. Paulus se eerste lesers was die eerste geslag gelowiges in Rome, die hoofstad van die magtige wêreldryk van die dag. Die keiser van Rome wou graag soos ‘n god vereer word, daarmee wou hy al die nasies van sy ryk steeds onder sy duim hou. Die Christene kon nie die keiser as Here vereer nie, al was hulle vasberade om goeie landsburgers te wees. Vervolging van Christene het in die Ryk uitgebreek, en die misdaad waarvoor hulle aangekla was, was rebellie teen die Ryk. Dit het begin met burgerregte wat beperk is – Christene kon nie meer handel dryf nie, nie koop of verkoop nie. Dit het later tot arrestasies gelei, en nog later tot wrede publieke teregstellings. Natuurlik het dit die gelowiges baie ontstel. Waarom word hulle so onskuldig veroordeel en doodgemaak?
Teen die agtergrond van hierdie intense lyding herinner Paulus ons hoe duur die Here vir ons betaal het: Jesus het Homself vir ons geoffer aan die kruis. Daarom vra Paulus die retoriese vraag: As God se liefde so groot was, sal Hy dan nie alles anders skenk uit genade wat ons nodig het om Hom te volg nie? Sal Hy ons nie in staat stel om enduit te volhard in die moeilike omstandighede wat ons dalk vandag in die gesig staar nie?
Die keiser kon met valse aanklagtes kom. Christene oor die eeue het wrede vervolging gely ter wille van hulle geloof in Jesus, sonder dat hulle enige misdaad gepleeg het. En tog herinner Paulus ons aan die groter prentjie – wat maak dit saak as die keiser, of ‘n wêreldse hof jou aankla omdat jy in Jesus as jou Here glo? Baie belangriker as dit is wat God van ons dink. Hy het ons vrygespreek, sê Romeine 8:33 saam met vers 1. As dit gaan oor ons ewige toekoms, vra Paulus wie anders het die reg om ons te veroordeel?
Dan die kosbare herinnering aan wat ons Here Jesus vir elke gelowige gedoen het, en nou nog mee voortgaan. Hy het in ons plek die doodstraf gedra, daar is geen veroordeling meer vir God se kinders nie. Hy het die dood oorwin, Hy is die lewende Here. Sy opstanding uit die dood is die kwitansie dat die prys aanvaar is om my los te koop. Hy het teruggekeer na sy magsposisie aan die regterhand van God. Dit het Hy vir ons gedoen om daar, vandag, vir ons te pleit. Vroeër het ons gesien die Gees tree vir ons in. Nou sien ons ons Here Jesus bid ook dat ons oorwinnend sal lewe. God is met ons elke tree van die lewenspad, daarom gaan ons dit maak!
Gebed: Here Jesus, dankie dat U my nie vergeet nie. Dankie dat U vir my intree by die troon van die Vader. Help my om te onthou dat ek duur gekoop is aan die kruis, en dat U deur u Gees my lei. Dit gee my hoop en help my om te volhard wanneer die lewenspad moeilik word. Amen