Bible Society of South Africa

Alles werk ten goede mee – 24 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

ROMEINE 8:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie is seker een van die verse wat ons die meeste aanhaal wanneer ons medegelowiges in krisistye probeer bemoedig. Soms kan dit as ‘n goedkoop antwoord oorkom. Ek was ook al aan die ontvangkant daarvan, dat dit vir my glad nie sin gemaak het nie. Ek het aan die einde van my hoërskoolloopbaan ‘n jonger sussie aan kanker verloor. Ek het ook ‘n oom, wat vir my ‘n mentor in die lewe was, wat vermoor is deur iemand wat hy probeer help het. Ek is geensins uniek in hierdie opsig nie, elkeen van ons kan getuig van stampe en stote langs die lewenspad, tye wat ons nie verstaan nie. Ek verstaan vandag nog nie hoe God alles wat sleg is, ten goede laat meewerk in my lewe nie.

Hierdie vers staan nie op sy eie nie. Paulus het so pas gesê dat ons soms moeilike tye beleef waarin dit selfs te moeilik is om te bid. Die Heilige Gees staan ons by in hierdie tye, en tree namens ons in by ons Hemelse Vader. Die Heilige Gees bid dat ons sal volhard, en die oorwinning sal behaal, selfs wanneer ons nie die groter prentjie sien nie.

Wat is die groter prentjie wat Romeine 8 tot dusver vir ons skets? Ons is nuwe mense in Christus. Deur geloof het ons nou kinders van God geword. Ons stap saam met Hom ons lewenspad, en die Gees lei ons hierin. Soms duik daar situasies op wat vir ons onhanteerbaar voel.

Dit bly een van die grootste vraagstukke in ons lewens as gelowiges – waarom is daar soms lyding? Daar is nie maklike antwoorde nie, en goedkoop antwoorde is gevaarlik.

In die midde van ons krisistye kan ons nie sin in lyding sien nie. Niemand van ons sou ook lyding vir onsself kies nie, ons sou baie eerder net tye van voorspoed wou geniet het. Maar die lewe is ‘n reis, en soms gaan daardie pad ook deur woestyne en donker dieptes.

In hierdie donker dieptes en woestyne is dit so belangrik om te onthou wie ek is. Ek is deur die Here geroep. Ek is die Here se kind. Ek het Hom lief. Ek is saam met Hom op pad. Hy stap tree vir tree saam met my deur die moeilike tye van my lewe. Die belofte van hoop is dat my lewe nie eindig in die woestyn nie, maar by die Vader se huis. Vandag mag lyding inhou, maar die toekoms is heerlikheid saam met Christus. Daarom bly ek volhard, stap ek tree vir tree deur die woestyn met die krag wat die Gees gee, tot ek anderkant uitkom.

Eers dan, wanneer die tyd van lyding verby is, en ek kyk terug, sien ek hoe die Here my gedra het. My seer word ‘n getuienis van God se hulp. Wanneer my lyding my nader aan die Here gebring het, of wanneer dit my in staat stel om iemand anders in soortgelyke situasies te help, dan vind ek betekenis in my lyding.

Gebed: Here, hierdie lewenspad is nie maklik nie. Daar gebeur baie dinge wat ek glad nie verstaan nie. Here, ek kan maar net vertrou dat U met my op pad is, en my nooit sal los nie. Help my vashou aan u beloftes, en gebruik die onverstaanbare dinge in my lewe om my op te bou, en ander te help. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS