Bible Society of South Africa

Vreemdelinge in die wêreld – 1 April 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

1Van Petrus, 'n apostel van Jesus Christus.

Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. 2Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.

Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

1 PETRUS 1:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Soms voel dit vir God se kinders asof ons nie die storms van die tye gaan oorleef nie. Dit lyk asof die golwe van die geskiedenis net te hard oor ons slaan …

Ons is diep aangeraak deur die gelowiges in die Oekraïne se smeekgebede om uitkoms, terwyl die bomme op hulle neerreën. Daar kom ook tydperke in ons eie lewens waar ons net oorweldig voel deur omstandighede buite ons beheer.

Dit is vir sulke tye wat ons die eerste brief van Petrus waardeer. Hy herinner gelowiges wie ons is, en hoe om staande te bly wanneer die lewe onderstebo draai. In die eerste eeu het gelowiges al klaar in onstuimige tye gelewe. Die eerste gemeentes het bestaan uit mense wat Jode was, wat in Jesus hulle Messias gevind het, maar deur die res van die Joodse gemeenskap uitgestoot is. Daar was Griekssprekendes, wat hulle rug moes draai op die bekende afgodsdienste van destyds, en gevolglik deur hulle mense verwerp is. In Petrus se laaste dae het die Romeinse keiser ook al meer begin om Christene te vervolg, te martel en dood te maak.

In hierdie tye onthou die Here se kinders wie Hy is, en wie ons in verhouding met Hom is. Ja, ons is vreemdelinge in hierdie wêreld. “Die wêreld is ons woning nie”, het Totius gedig. Ons pas nie so maklik in nie. Maar: ons is kosbaar vir die Here! Petrus wil uitlig dat mense wat vir hulle geloof vervolg word, deur God uitverkies is om sy kinders te wees. Hy het ons deur die Gees afgesonder vir Hom, Hy het ons sy eiendom verklaar deur die bloed van Jesus. Ons is by Hom welkom!

Daarom kan Petrus ook groet met die twee wonderlike geskenke van die Here: Genade, en vrede! Genade – God kies om met ons ‘n pad te stap, ongeag hoe ons verlede lyk, hoe verkeerd ons optrede ook al was. Ten spyte van ons geskiedenis wil God graag ons Vader wees, en in verhouding met ons lewe. Sy grootste geskenk aan sy kinders is vrede – vrede met God, vrede met ons naaste, en vrede in onsself. As mense wat sy genade en vrede beleef vind ons ‘n veilige vesting in God, en kan ons met geloof volhard in ‘n vyandige wêreld.

Gebed: Here, soms beleef ek ook dat ek nie so gemaklik inpas in hierdie wêreld nie. Dankie dat ek by U tuisgekom het. Dankie dat U my gekies het om met my ‘n pad te stap. U genade, en u vrede dra my, en maak die lewe mooi. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS