Die koninkryk van God is hier – 1 September 2022
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
MATTEUS 3
Vir die Jode van die Nuwe Testament was die idee van die koninkryk van God of koninkryk van die hemele soos ons teksvers sê, ‘n vreemde idee. Hulle idee van ‘n koninkryk was die van die politiese koninkryk van Israel en hulle het hulle beywer om die koninkryk weer te laat herleef. Konings soos Dawid, Salomo, Hiskia en talle ander was so deel van hulle geskiedenis dat hulle nie godsdiens van politiek kon skei nie. Jesus se idee van ‘n koninkryk wat niks met die politiek te doen het nie, was vir hulle dus vreemd en onaanvaarbaar. Selfs Jesus se dissipels het dit nie verstaan nie soos ons later in die maand by een van die dagstukkies sal sien.
Die kerklike jaar bestaan uit verskillende momente wat begin by Advent dit wil sê die vier Sondae voor Kersfees. Daarna is dit die viering van Jesus se geboorte met Kersfees. Gewoonlik begin die volgende moment naamlik Epifanie of God se “bekendstelling” aan ons op die eerste Sondag in Januarie. Dan volg Lydenstyd met Goeie Vrydag en Paassondag as hoogtepunte tot by Hemelvaart en Pinkster. Die tyd tussen Pinkster en die volgende Advent word Koninkrykstyd genoem, omdat ons dan in die kerklike jaar veral dink aan die vestiging van God se koninkryk in die wêreld. Hierin speel die kerk en haar lidmate natuurlik ‘n groot rol. Ons is nou in die kerklike jaar dus in die middel van Koninkrykstyd.
Wat beteken die koninkryk van God? Daar is al baie dik boeke daaroor geskrywe so ons gaan nie probeer om ‘n definisie hier in ‘n paar woorde te gee nie. Ons gaan liewer in die volgende dae elke dag kyk na ‘n aspek van die koninkryk en so probeer om ‘n geheelbeeld daarvan te kry.
In ons teks van die dag kry ons reeds twee baie belangrike sake rakende die koninkryk. Die eerste is dat die koninkryk van die hemele nie iewers ver in die toekoms lê nie maar reeds hier is. Die tweede is dat om deel te wees van die hemelse koninkryk ‘n besliste besluit van ‘n mens vra. Die Bybel sê: “Bekeer julle.”
Gebed: Ons dank U Here dat U self die Koning is en ons nie meer op aardse heersers hoef staat te maak nie. Amen