Die koninkryk vra nederigheid – 2 September 2022
By Ben Fourie
Bybelteks(te)
MATTEUS 5
Die werklik gelukkiges
Is daar ‘n toelatingsvereiste vir die koninkryk van die hemele? Moet jy ‘n arme van gees wees of soos vers 10 van hierdie hoofstuk sê eers “vervolg word terwille van geregtigheid”, voordat die koninkryk aan jou kan behoort?
Die agt “saligsprekinge” wat ons in hierdie hoofstuk kry is van die belangrikste woorde wat ooit uitgespreek is. As elke mens in die wêreld maar so kon leef, sou die wêreld ‘n soveel beter plek gewees het. By elkeen van hierdie agt word genoem dat iemand besonder gelukkig of salig is vanweë ‘n sekere karaktertrek of manier van doen wat dan vir jou ‘n besondere belofte inhou. Interessant genoeg word die belofte van die koninkryk van die hemele by twee van die saligsprekinge gemaak. Hoe moet ons dit verstaan? Behoort die koninkryk van die hemele net aan die armes van gees en diegene wat vervolg word? Natuurlik nie.
Die agt saligsprekinge staan nie los van mekaar nie. Een persoon is nie net barmhartig, ‘n ander ‘n vredemaker en nog een suiwer van hart nie. Die mens wat regtig gelukkig wil wees, werklik deel wil wees van God se koninkryk, moet al die goeie eienskappe besit wat hier genoem word. Dit help nie ek is so barmhartig dat al die bedelaars maar by my deur kan kom aanklop vir ‘n bord kos, maar ek knyp my oë toe wanneer mense onregverdig behandel word nie.
Is een van hierdie “eienskappe” belangriker as ‘n ander? Beslis nie, maar die heel eerste een wat genoem word in ons vers van die dag en wat spesifiek ook aan die koninkryk gekoppel word, kan as vertrekpunt en as onontbeerlik vir die verstaan van al die ander gesien word. Om arm te wees van gees beteken ‘n sekere ingesteldheid, ‘n nederigheid soos Jesaja 57:15 reeds noem. Die 1983-vertaling praat van “weet hoe afhanklik hulle van God is.” Dit is ‘n goeie omskrywing, want eers wanneer ek besef hoe afhanklik ek van God is kan ek op my beurt barmhartig wees, vredemaker wees, rein van hart wees. Eers wanneer ek my totale afhanklikheid van God besef, behoort die koninkryk van die hemele aan my.
Gebed: Ons bid dat U ons elke dag nederig sal maak sodat ons die mense rondom ons kan dien en so ook self deel word van u koninkryk op aarde. Amen