Bible Society of South Africa

Lewe en dien in sy koninkryk (2) – 31 Augustus 2022

Deur Fanie Richter

Bybelteks(te)

MATTEUS 13

Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg

31Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

MATTEUS 13:31-32AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wat is die mosterdsaad-effek in jou geloof en lewe?

Jesus leer sy volgelinge om lewe in die regte perspektief te sien. Hy wil hê dat ons sal verstaan (i) hoe Hy die lewe bedoel, en (ii) dat ons dié doel sal bereik en dit geniet. Hy sê as’t ware: “My koninkryk is soos iets klein wat Ek geplant het en weens My krag groei en lewensruimte asook ’n leefwyse gee – sodat dit tot seën kan wees vir almal.”

Ongelukkig dink ons baiekeer – wat ék kan doen, kan tog nie veel beteken nie. Maar Jesus se woorde beteken ook: “Wat vir julle onmoontlik lyk, maak Ek moontlik – deur dit wat Ek in julle geplant het en wil laat groei en ontwikkel.”

Watter kundigheid en potensiaal is in jou geplant – vir watter koninkryksgeleenthede? Moenie dat twyfel jou geloof en visie beperk nie. Moenie jouself te gering skat nie. Of skat jy dalk God se vermoë met jou te gering? Jy behóórt dinge wat Hy vir en deur jou bedoel het, suksesvol en betekenisvol te vervul, saam met God!

Die Here se werk in en deur jou is ’n proses met dinamika – groeikrag en beweging onder sy heerskappy – transformasie – sodat mense in die seën van die Koninkryk kan deel. Die Koning se bedoeling en beplanning is goed.

Die punt is: God roep en gebruik gewone mense. God skep dinamika soos met ’n klein mosterdsaadjie, ook in en deur jóú.

Gebed: Hemelse Vader, beheer asseblief my lewe en gee vir my insig en skep en bereik deur my waarna U verlang. En dankie dat dit vir my en ander goed is. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS