Bible Society of South Africa

Geen gevaar of uitdaging is groter as God se liefde nie – 27 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:

“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig,

dat ons soos slagskape behandel word.”

ROMEINE 8:35-36AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elke mens het uitdagings langs die lewenspad. Sommige mense se pad loop moeiliker as ander s’n. Soms kan die uitdagings en krisisse van die lewe ons oorweldig. Dit is so menslik om soms moedeloos te word wanneer die eise te veel begin word. Ek het dit self al beleef, en ek hoor dit dikwels by gelowiges in moeilike omstandighede: “Het die Here my dan vergeet? Straf die Here my? Het Hy my nie meer lief nie?”

Paulus lys die gevare waarmee die gewone gelowige elke dag in eerste-eeuse Rome te doen gekry het. Daar was baie lyding; wanneer hulle burgerregte ingekort is kon hulle nie eens ‘n brood koop nie, niemand mag met hulle sake gedoen het nie. Dit bring honger mee. Benoudheid is daardie vrees vir die klop aan die deur in die middel van die nag, die arrestasies, die potensiële marteling wat enige oomblik kon aanbreek. Die naaktheid wat na verwys word, was die publieke vernedering om in die openbaar gekruisig te word, of vir wilde diere in die arena gegooi te word as vermaak vir die Romeinse burgers. Dit was gevaarlik om die Here Jesus te dien in eerste-eeuse Rome, baie Christene het met Romeinse swaarde die lewe verlaat.

Ons uitdagings lyk heel waarskynlik baie anders. Wat is die dinge wat vir jou uitdagings bied in jou navolging van Jesus? Dis goed om dit soms neer te skryf in jou geestelike dagboek. Dis moeilik om vandag in Jesus se voetspore te volg met die spot van so baie ateïste. Dit is moeilik om ‘n goeie dissipel van Jesus te wees in hierdie gejaagde wêreld wat so baie van ons tyd opeis. Ons is baie keer doodmoeg net van ons pogings om te probeer oorleef. Die lyding in ons eie lewens, en in dié van die mense wat ons liefhet, bring soms groot vrae waarvoor ons nie maklike antwoorde vind nie.

In al hierdie dinge van die eerste en die 21ste eeu vra Paulus: wat van hierdie dinge kan ons van die liefde van God skei? Watter uitdaging wat ons in die gesig staar, is groter as die God wat hemel en aarde gemaak het? Watter uitdaging is groter as Hy wat ons Abba Vader is?

Dit is goed dat Paulus ook Psalm 44:23 aanhaal in Romeine 8:36. Gaan lees gerus hierdie klaaglied. Wanneer die lewe ons so druk, dan mag ons maar in ons binnekamer met die Here daaroor gaan baklei! Psalm 44:24 vra: “Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie …” Dit klink na iets wat ons nie mag sê nie! Klaagliedere leer ons om eerlik met die Here te wees oor die ervarings wat ons seer maak. Dit bring ons nood voor die Here. Dan gaan dit oor in vertroue. Psalm 44:27 eindig met die gebed: “Kom ons tog te hulp, en bevry ons, dat so u troue liefde blyk.”

Sien jy wat Paulus doen? Aan die een kant van die weegskaal pak hy al die lyding wat ons nou verduur. Aan die anderkant pak hy die liefde van die Here, wat vir altyd hou. Watter een weeg die swaarste? God se liefde gaan altyd wen.

Gebed: Here, wanneer my lewe so moeilik word, dan wil ek ook klaagliedere aanhef in my binnekamer. Ek wil ook vra: sien U dit nie raak nie, Here? Maar dan kom oorrompel u troue liefde my weer, en herinner my dat U met my op pad is. Dankie dat niks van hierdie aardse moeilikheid my van u liefde sal skei nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS