Bible Society of South Africa

Bly die evangelie verkondig – 15 September 2022

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

MATTEUS 24

7Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees.

MATTEUS 24:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 24

14En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”

MATTEUS 24:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Van tyd tot tyd gebeur daar groot dinge op die wêreldverhoog soos ‘n oorlog wat almal se aandag vasvang, pandemies, storms en aardbewings. Hiermee saam loop dikwels bespiegeling oor die einde van die wêreld. Baie van hierdie bespiegelinge en redenasies word dan gekoppel aan uitsprake wat Jesus gemaak het, soos byvoorbeeld in die skrifgedeelte vir vandag.

Matteus 24 en 25 is ‘n profetiese rede oor die eindtyd en dit sal goed wees as u al twee hoofstukke kan lees. Van al die dinge wat Jesus self as voortekens noem, is die een waarna ons vandag wil kyk die wêreldpolitiek. Dwarsdeur die geskiedenis is dit die een ding wat die meeste gevaar en rampspoed en ontwrigting vir die mensdom gebring het. Aardbewings, storms en pandemies soos die onlangse Covid-19, die Swart Dood en 1918 se Spaanse Griep kan groot verwoesting saai en baie mense laat sterf, maar dit is sporadies. Oorloë wat die gevolg is van wêreldpolitiek is egter iets wat konstant is. Internet statistieke wys dat daar sedert 1900 tot op hede nie ‘n enkele jaar was waar daar nie iewers in die wêreld oorlog gemaak is nie.

In ons teksvers sê Jesus self ook dat een nasie of koninkryk teen ‘n ander sal oorlog maak. Die wêreld is ‘n verskriklike gewelddadige plek, maar te midde van hierdie daaglikse geweld, sal die boodskap van God se koninkryk nooit tot ‘n einde kom nie. In die eerste twee of drie eeue na die ontstaan van die kerk is daar gedurig oorlog gemaak teen die volgelinge van Jesus, maar die boodskap is steeds uitgedra na al die nasies.

Sonder hierdie boodskap van liefde en vrede sou die wêreld sekerlik ‘n nog baie meer gewelddadige plek gewees het. Met al die baie oorloë die afgelope eeu vra mense nou of Jesus se woorde in ons teksvers, dat die einde dan sal kom, nie binnekort sal waar word nie. Ons weet doodgewoon nie wanneer Hy weer sal kom nie, want ons weet nie wanneer die evangelie genoeg verkondig is nie. Dalk moet daar nog eers miljoene mense wat nog nie gebore is nie, die evangelie hoor. Ons taak is maar net om te bly saai. Hy alleen sal besluit wanneer dit genoeg is.

Gebed: Ons gebed is dat U ons elke dag sal help om die boodskap van verlossing in ‘n gewelddadige wêreld te versprei. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS