Ek minder – God meer – 16 September 2022
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
HANDELINGE 1
Vir baie weke en maande en op verskillende plekke het Jesus sy dissipels vertel van die koninkryk van die hemele. Nou is dit byna tyd om afskeid te neem van sy troue volgelinge en terwyl hulle saam geëet het, sê Jesus dat die belofte wat Johannes die Doper in Matteus 3:11 gegee het nou in vervulling sal gaan: “Ek doop julle wel met water … Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.” Nou is die tyd hiervoor ryp, is Jesus se bedoeling, want “…oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.” Vir baie Jode was die belofte van die Heilige Gees soos die profeet Joël dit in hoofstuk 2:28 en verder uitspel, ‘n teken van die heerskappy en dus die koninkryk van God wat in die wêreld gevestig word.
Die dissipels kan hulle maar nie los maak van wie hulle is nie, want onmiddellik na Jesus se aankondiging vra hulle of Hy nou weer die koninkryk vir Israel gaan oprig. Die koninkryk van die hemele waaroor Jesus so baie gepraat het, is vir hulle nie los te dink van die fisiese koninkryk van Israel nie. Jesus gee nie sommer net ‘n nee vir ‘n antwoord nie. Hy vat hulle steeds saam met Hom op die pad van ware verstaan.
Kyk, sê Jesus, dit is nie nodig dat julle so na die Vader se planne uitvra nie, dit is sy domein. Wat wel baie belangrik is om te weet, is dat julle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees op julle uitgestort word en: “julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde”. Jesus sê basies vir hulle om hulle nie te bemoei met wanneer Israel weer as koninkryk sou opstaan nie, maar liewer te konsentreer om deur die krag van die Gees die koninkryk van die hemele deur die hele wêreld te verkondig. Ons almal smag dikwels na ons eie klein koninkrykies. God vra egter ook vir ons om daarvan te vergeet en liewer besig te wees met sy koninkryk.
Gebed: Gee my asseblief die genade Here dat ek elke dag sal soek na waar ek u koninkryk kan verkondig. Amen