Bible Society of South Africa

Oppas om nie mense uit te sluit nie – 14 September 2022

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

MATTEUS 23

Jesus veroordeel huigelary

13“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan.

MATTEUS 23:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wat ‘n teenstelling is hierdie aantal verse vanaf vers 13 tot vers 36 nie met die van Matteus 5:3-12 nie. In hoofstuk vyf het ons in ‘n vorige dagstukkie oor die agt saligsprekinge wat Jesus uitgespreek het, gesels. In vandag se gedeelte kry ons in teenstelling met die agt die sewe plekke waar die Here Jesus vir die skrifkenners en Fariseërs sê: “Wee julle”. My ou verklarende woordeboek sê die woord “wee” beteken leed, smart, verdriet, ramp, onheil, pyn. Dit word ook gebruik in die sin van: die ongeluk haal jou! Die 1983-vertaling lees: “Ellende wag vir julle …”. Sterk taal deurgaans.

Interessant is dat die eerste van hierdie sewe weë net soos die eerste van die saligsprekinge ook oor die koninkryk van die hemele gaan. Waar diegene wat hulle afhanklikheid van God besef egter die beloning ontvang om die koninkryk in te gaan, is die skrifkenners en Fariseërs heeltemal onwillig om die koninkryk in te gaan en nog erger, hulle verhinder ook ander wat graag wil ingaan.

Soos by die saligsprekinge staan die sewe weë nie los van mekaar nie, maar vorm dit ‘n geheel. Wanneer Jesus die lys van die dinge wat hulle doen om mense uit die koninkryk uit te sluit begin opnoem, is hulle nie net aan enkeles daarvan skuldig nie, maar aan almal. Die skrifkenners en Fariseërs het die wette van God so verdraaid en streng toegepas dat Jesus in vMatteus23:24 vir hulle sê: “Blinde leiers! Julle sif die muggie uit, maar sluk die kameel in”. So streng was hulle dat iemand wat ‘n volgeling van Jesus wou word, onmiddellik uit die sinagoge verban en selfs vervolg is. Hierdeur het baie wat in Jesus se leerstellinge geïnteresseerd was dan teruggedraai na die Joodse geloof en is die koninkryk vir hulle gesluit.

Ons as gelowiges het ‘n dure plig om nie dalk soms dieselfde fout te maak as die skrifkenners en Fariseërs nie. Dit is vir my altyd baie hartseer as ek in die briewekolomme van die koerante en kommentaar op sosiale media moet lees van mense wat van die kerk en godsdiens afgeskrik word deur “gelowiges” of “kerkmense” se onversetlike houding oor baie sake. Hoe hartseer sal ek nie wees as ek eendag by God moet hoor dat ek dalk deur my onversetlikheid oor sekere geloofsake vir iemand die koninkryk toegesluit het nie. Mag die ellende tog nooit vir my wag nie.

Gebed: Liewe Vader bewaar my asseblief daarvan om nie deur wat ek sê en doen mense uit die koninkryk te hou nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS