Die hart van ‘n naaste – 22 Maart 2022
Deur Xanthe Hancox
Bybelteks(te)
LUKAS 10
Vir die Jode in Jesus se tyd was die idee van ‘n “barmhartige Samaritaan” ‘n oksimoron. Die twee woorde het net eenvoudig nie bymekaar gepas nie. Dit was soos om na iemand as ‘n eerlike dief te verwys.
In Jesus se gelykenis kom twee godsdienstige leiers verby en gee geen aandag aan die arme man wat daar halfdood lê nie. Die gehoor het heel waarskynlik verwag dat die derde persoon in die storie die held sou wees wat die probleem sou aanspreek. En dit sou definitief ‘n hoogs gerespekteerde Farisieër wees wat twee keer so hard as ander mense gewerk het om God te dien. Maar tot die verbasing van die gehoor, word ‘n Samaritaan in Jesus se verhaal die man se naaste.
Die teks in die Ou Testament wat oor jou naaste handel en waarmee Jesus se gehoor bekend sou wees, lui: “Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Levitikus 19:18) Wanneer Jode oor hulle naaste gepraat het, het hulle net na hulle volksgenote verwys. Die Samaritane was afstammelinge van die vreemdelinge wat in die noorde van Israel kom woon het nadat Israel in ballingskap weggevoer is en hulle godsdienste met die aanbidding van God vermeng het. (2 Konings 17:24-41) Hulle het die Jode verag, en die Jode het hulle as onrein beskou. ‘n Jood sou eerder doodgaan as om deur so ‘n persoon gehelp te word.
Die punt is dat ons eerder as om te vra: “Wie is my naaste?” moet vra: “Is ek die mense om my wat hulp nodig het se naaste?” Wanneer ons ander as ons naaste behandel, word hulle ons naaste.
Gebed: Here, u liefde ken geen grense nie. Help my om, soos U, liefde aan ander te bewys. Amen