Bible Society of South Africa

“Word nou gesond” – 8 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

14Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”

MATTEUS 19:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Karlien Coetzee, ’n finansiële adviseur van Bloemfontein se 4-jarige seuntjie, Ethan, het in verlede jaar ’n bonatuurlike belewenis gehad.

Karlien: “In Maart verlede jaar het ons seuntjie, Ethan, begin sukkel om kos binne te hou. Sy magie het ook bly opswel. Ons is pediater toe waarna ’n string toetse gevolg het. Dit was ’n geweldige uitdagende tyd vir ons as gesin aangesien dokters nie die oorsaak van die probleem kon vind nie.

“In dié tyd het ek een oggend, ná aan trane, by die werk gesit en bid: ‘Here, wys my asseblief watter kant toe, want ek weet nie meer nie.’ Ek kon sien my kind kry swaar. ’n Uur later het ’n kliënt (wat ook ’n kardioloog is) my gebel. In ons gesprek het hy gevra hoe dit gaan. Nadat ek hom van Ethan se situasie vertel het, het hy gevra dat ek vir hom van die toetsuitslae moes aanstuur. Minute later het hy my gebel met die nuus dat hy vir ons ’n afspraak by ’n span dokters en professors by die Rooi Kruis hospitaal in Kaapstad gemaak het.

“Ná ’n MRI-skandering van Ethan se buik in Kaapstad is ontdek dat die kos nie van sy maag na sy derm beweeg nie. Hy moes geopereer word. Ná die skandering het Ethan slegte drome begin kry. Soveel so dat ons intens vir sy geestelike beskerming begin bid het.

“Die dag van die operasie was Ethan weer onrustig. Al wat ek kon doen was om geestelike musiek te speel en vir hom te bid. Dit het hom rustig gemaak. Die operasie was lank en intens en hy het die dag na die operasie bykans die hele dag geslaap. Eers teen die aand kon ek met hom gesels. Ek het ook vir hom gebid. Toe ek vir mooi drome bid, het hy my gestop en gesê dat hy seker weer slegte drome gaan hê. Ek het vir hom gesê: ‘Ethan, Jesus gee vir ons ’n keuse. Kies om van Jesus te droom.’ Net daar het hy gebid: ‘Jesus, kan ek vanaand van u droom?’ Ons het gaan slaap.

“Teen 01:00 daardie nag het ek wakker geskrik van ’n ongelooflike helder lig in die kamer. Die lig was so helder dat ek skaars my oë kon oopmaak. Binne sekondes was die lig weg. Ek het regop gesit om te kyk of alles reg was met Ethan. Hy het egter met ’n breë glimlag kiertsregop in die bed gesit met die woorde: ’Mamma, ek het van Jesus gedroom.’ Verlig het ons weer aan die slaap geraak.

“’n Paar dae later het ek vir Ethan gevra wat presies hy van Jesus gedroom het. Hy het verbaas na my gekyk en gesê: ‘Nee mamma, ek het nie gedroom nie. Jesus was by my in die kamer. Hy het by my op die bed kom sit. Ek het hom gevra wat Jesus gedra het. Volgens Ethan het Jesus ’n wit top en rooi baadjie gedra en vir hom gesê: ‘Word nou gesond.’

“Met ons opvolgbesoek in Kaapstad het ons in dieselfde kamer in die hospitaal geslaap. Dié keer het Ethan die storie woord vir woord vir my man vertel (sien video onder). Die toetsuitslae wys dat daar beterskap by Ethan is. Ons kan nie anders as om God te prys vir hierdie wonderwerk wat Ethan beleef het nie. Hy antwoord waarlik elke gebed op sy tyd.”

Karlien is reg. God eer geloof soos ’n kind. In Matteus 19:14 sê Jesus: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” (1983-vertaling) Mag ons opnuut geloof soos ’n kind begin demonstreer in ons verhouding met God. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U my gebede hoor. Help my asseblief vandag (noem jou situasie). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Ame

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS