Bible Society of South Africa

God sien – 7 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

21Hy hou die pad van die mens dop

en sien elke tree wat hy gee.

7Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

1 PETRUS 5:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

In Perth, Australië is die Mullaloo strand onlangs gesluit nadat ’n haai van 2,5 meter gevaarlik naby aan die strand gewaar is. Beeldmateriaal wat vanuit die lug geneem is (sien skakel onderaan) wys hoe ’n vrou en kind niksvermoedend in die water rondplas terwyl die haai letterlik teenaan hulle verbyswem.

Dít is hoe die vyand daagliks rondom ons ook beweeg. Soms is ons bewus van sy teenwoordigheid wanneer vrees en bekommernis dreig om ons te oorweldig. Dit kom in die vorm van gedagtes dat ons nie met ons geld deur die maand gaan kom nie, dat ons geliefde wat ver van God is nooit tot bekering gaan kom nie of dat die dokters se diagnose in iets slegter gaan eindig. Soms is ons nie eens bewus daarvan dat die vyand rondstap op soek na areas om ons op aan te val nie, maar ons weet dat God ons deurentyd beskerm.

Net soos die videograaf van die beeldmateriaal van die haai, het God ’n ander perspektief op ons lewens. In Job 34:21 lees ons: “God sien alles wat ‘n mens doen, Hy sien elke tree wat ‘n mens gee.” (Bybel vir almal) Omdat God alles sien, kan ons Hom ook met elke uitdaging in ons lewens vertrou. In 1 Petrus 5:7 lees ons: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1983-vertaling) En in Filippense 4:6-7 staan geskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (1983-vertaling)

Mag ons onthou dat God ons Beskermer is. Hy sien elke tree wat ons gee en Hy keer die haaie weg – dié wat ons van weet en selfs dié wat ons nie eens van bewus is nie. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U my beskerm. Help my asseblief vandag (noem jou uitdaging). Vul my met vrede. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS