Bible Society of South Africa

Watter kant toe kyk jy? Sien die blomme langs die pad – 28 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

28En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.

MATTEUS 6:28-29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer ek hierdie stuk in Matteus 6 lees, sien ek in my geestesoog die kosmos wat hierdie tyd van die jaar in die hoëveld begin blom. Al langs die pad sien jy die blommeprag in skakerings van wit en pienk.

Ek sien elke jaar uit na Augustus en September want dan is dit heldergeel canolavelde en fyn veldblommetjies wat die heuwels hier in die Kaap verfraai. Dis ook wanneer die speldekussings begin blom.

Ons moet nooit vergeet dat ’n kleurvolle skouspel van blomme – maak nie saak waar nie, God se handewerk is. Neem volgende keer die tyd en kyk na die eenvoudige veldblomme wat die landskap opkikker. Nee, moenie net kyk nie. Maak seker jy sién. En onthou dan hoe Jesus met hierdie voorbeeld vir ons God se belofte op ’n praktiese, verstaanbare manier kom verduidelik het. God sál sorg. God weet presies wat ons nodig het en Hy sál na ons omsien, net soos Hy vir die blomme in die veld ook sorg.

Gebed: Vader, dankie vir die mooi veldblomme langs die pad. Wanneer ek die blomme sien, help my om te onthou dat U almagtig is, dat U my ken en dat U sal sekermaak ek het genoeg. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS