Bible Society of South Africa

Watter kant toe kyk jy? Hier en nou – 29 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

24Dit is die dag wat die Here gemaak het;

laat ons daaroor juig en bly wees.

PSALMS 118:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dis darem maar ’n fyn balans wat ons moet handhaaf. Ons moet voortdurend bewus wees van alles wat aangaan. Ons moet gedurig beplan en aan die toekoms dink, gereed maak vir onvoorsiene omstandighede. En dan is daar nog die hele ding van carpe diem ook. Was baie van ons se nuwejaarsvoorneme nie juis om meer teenwoordig te wees en in die oomblik te leef nie? Jip, ’n fyn balans as jy my vra.

Die ding wat dit deesdae so moeilik maak om die balans te handhaaf, is die magdom inligting waarmee ons gedurig gebombardeer word. Ons maak ons oë skaars oop dan begin ons al op ons selfone scroll. Of jy nou nuus lees of op sosiale media rondhang, scroll is scroll en die inligting oor alles en nog wat, vloei vrylik. Klim jy in jou kar, is dit die radio. In die aand is dit televisienuus en boonop ’n magdom kanale en stromingsdienste wat almal om jou aandag meeding met ’n rits flieks, reekse en dokumentêre films.

Daar is dae wat ek net wil sê: Genoeg! Information overload!

Ons almal het balle wat ons in die lug moet hou, om dit te doen terwyl daar al hierdie geraas rondom ons is, is gewoon uitputtend.

Is dit nie tyd dat ons onsself begin dwing om so nou en dan van die lawaai uit te doof nie? Hoe moet ons teenwoordig wees en in die oomblik leef as ons aandag gedurig op soveel verskillende plekke is? Dis goed om oor die toekoms te dink. Dit is goed om soms terug te dink. Maar ons moet onsself ook kans gee om te carpe diem. Ons moet onsself die ruimte en die tyd gee om in die oomblik te leef.

God gee vir ons elke nuwe dag as ’n geskenk. Elke dag is ’n kans om oor te begin, of dit nou ’n cliché is of nie. Watter dinge is vandag vir jou ’n prioriteit? Watter oomblikke wil jy vandag indrink, koester of selfs vier? Carpe diem.

Gebed: Liewe Here, die wêreld en al die inligting waarmee ons daagliks gekonfronteer word, kan so oorweldigend wees. Help my om my gedagtes te orden. Help my om vandag te fokus op die dinge wat vir my vreugde bring. Help my om hierdie dag, wat ’n geskenk van U is, aan te gryp en die beste daarvan te maak. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS