Bible Society of South Africa

Watter kant toe kyk jy? Soms moet jy terugkyk – 27 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

ROMEINE 8:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek hou van onthou. Een van my gunstelingdinge is om soms na ou foto’s te kyk – in ’n fotoalbum of iewers in ’n lêer op my rekenaar. Ek kan my verkyk aan die klere wat almal op die foto aangehad het en die verskillende gesigsuitdrukkings. Ek fynkam dikwels ook die agtergrond vir detail wat ek dalk nooit opgelet het nie. Terwyl ek so na ou foto’s kyk uit my studentedae, vakansies of sommer net ’n sekere hoofstuk in my lewe, dink ek terug aan die omstandighede rondom die foto. Ek onthou hoe ek gevoel het, ek onthou soms ’n spesifieke emosie of gebeurtenis, of ’n spesifieke gesprek. Dis vir my heerlik om soms so in my gedagtes terug te reis in tyd en vir ’n oomblik weer te onthou hoe ek daai tyd gevoel het, of om ’n ander weergawe van myself te onthou.

Die wonderlike ding van terugkyk, is hoe ’n mens dan ook die paadjie wat jy tot dusver gestap het, kan evalueer. Wanneer ek so terugkyk besef ek dinge het meestal beter uitgewerk as wat ek gedink het dit gaan. Ek onthou hoe sekere deure nie vir my oopgegaan het nie en hoe ek dan dikwels moedeloos gewonder het: Hoekom nie? Maar wanneer ek terugkyk verstaan ek ook, dís hoekom nie. Soms verstaan ek steeds nie hoekom iets dalk nie gebeur het soos ek graag sou wou hê nie, maar ek kan wel sien watter lewenslesse ek in die proses geleer het en ek kan sien hoe daardie lewenslesse al handig te pas gekom het.

Ja, daar is ook maar dinge wat soms in die lewe gebeur, onverwagse wendings, wat nooit lekker is om te onthou nie. Dinge wat, maak nie saak hoe hard jy daaroor dink en wonder en ontleed nie, gewoon nie vir jou sal sin maak nie. En jy is reg, dán is dit nie lekker om terug te kyk nie.

Tog glo ek ons moet soms tyd neem om terug te kyk – ons moet soms dink aan die dinge wat beter uitgewerk het as wat ons verwag het, die dinge wat in plek geval het toe ons gedink het alles gaan inmekaar val en soms moet ons ook dink aan die moeilike tye en hoe ons deur dit gekom het. Want wanneer ons terugkyk en ons kyk fyn, sal ons God se hand in ons lewens sien. Ons sal sien dat Hy al die tyd daar was, selfs toe ons gedink het Hy was nie.

En as jy nou terugkyk en dinge maak nie vir jou sin nie, jy voel dalk seer of jy voel te na gekom – wag. Wees geduldig. Ek glo daar sal ’n tyd kom wat jy weer kan sit en terugkyk, en dan gaan jy wel kan sien hoe God elke treë saam met jou was.

Gebed: Here, dankie dat U dinge ten goede laat meewerk, maak nie saak wat die uitdagings is waarmee ek gekonfronteer word nie. Help my om soms ’n oomblik te neem, terug te kyk en u hand in my lewe raak te sien sodat ek kan onthou dat U my nooit verlaat nie. Help my ook om te onthou dat U ’n plan met my lewe het, selfs al maak die plan nie dadelik vir my sin nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS