Bible Society of South Africa

Wat kry jy in hierdie lewe? - 22 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

9Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?

PREDIKER 3:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dis een van die oudste vrae in die mens se bestaan. Wat is daarin vir my? Waarom doen ek wat ek doen? Wat laat my in die oggend uit die bed opstaan, en my dagtaak aanpak?

Dis die Prediker wat hierdie vraag vra. Hy het hierdie hele boek geskrywe waarin hy diep nadink oor die mens se lewe. Die mensdom is vir hom soms ‘n vreemde spesie. Ons almal probeer oorleef. Ons doen baie dinge, sommiges goed, sommiges meer aan die donker kant. Ons probeer die beste maak van die tyd wat ons op aarde ontvang het.

Van die begin af het ons keuses in die verloop van ons lewens. Op skool staan jy voor die keuse: gaan jy die beste gebruik maak van die geleentheid om kennis te bekom? Gaan jy jou boeke met die nodige respek behandel en leer soos jy moet? Of is jou fokus eerder op sport, is pouse jou gunsteling vak? Soos die einde van jou skoolloopbaan nader kom, het jy groot keuses om te maak – watter beroep wil ek gaan beoefen? Hoe wil ek my daaglikse brood verdien? Wat gaan my aan die lewe hou? Ons keuse van beroep het ons in bepaalde rigtings gelei – om in diens opgelei te word, om aan te sluit by ‘n uniformtak, om te gaan studeer. Ons het gesoek na ‘n werkplek waar daar vir ons betaling gaan wees om kos te koop, ‘n dak oor ons kop te kry, en om ons drome waar te maak.

Dis waar die vraag dan inkom. Ek en jy raak besig in ons lewe. Ons probeer die beste maak van die geleenthede wat oor ons pad kom. Na ‘n paar jaar gebeur dit dikwels dat daar ‘n stukkie ontnugtering intree. Die beroemde vraag wat Melvin Udall in die rolprent van 1997 vra: “What if this is as good as it gets?”

As ons motivering is om geld te maak, dan is daar ‘n goeie kans om teleurgesteld te wees. Wanneer bereik ons die doel? Wanneer het ons genoeg? Daar is altyd iemand anders wat meer en beter as ek besit. Wanneer geld my maatstaf word, dan gaan ek jaloers wees op die persoon wat meer het.

As ons motivering is om sukses te bereik, om beroemd te word in ons veld, dan is ons maar net een misstappie weg van mislukking. Roem en eer kan so vinnig van ons af weggeneem word.

Die Prediker stel ons met hierdie vraag op om diep te kyk na ons motivering in die lewe. Hy wil ons begelei om vandag te lewe met dankbaarheid. Om vreugde te vind in die klein dingetjies van die lewe. Ons gaan in die komende dae sien dat verhoudings baie belangriker as goed is. Wanneer ek vandag kan lewe, en geniet met dankbaarheid, dan word my dagtaak vervullend.

Gebed: Here, ons lewe maar in moeilike tye. Dis ‘n tyd waarin baie mense nie werk het nie, en sukkel om kop bo water te hou. In hierdie tye wonder ons regtig wat die lewe en werksgeleenthede vir ons inhou. Dankie dat U sorg. Ek wil ook bid vir die leser wat tans deur gebrek gaan, wat so graag werk wil hê maar sukkel om dit te kry. Sal U ook in hulle daaglikse brood voorsien? Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS