Bible Society of South Africa

Bepaalde en onbepaalde tyd? - 23 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

11God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.

PREDIKER 3:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die ou Romeine het al gesê: “Tempus fugit velut umbra …”, die tyd vlieg soos ‘n skadu. Dit is waarna die Prediker verwys as hy van die bepaalde tyd praat. Dit is meetbare tyd. Die ou Gesang 26 verwoord Psalm 90 mooi: “Ure, dae, maande, jare vlieg soos skadus stil verby, niks wat met die loop van jare onveranderlik kan bly …”

As ‘n mens nog klein is, dan voel dit of die tyd so stadig loop, dis so lank voor pouse, voor etenstyd, en dis nog ‘n leeftyd na Kersfees toe. Soos ons ouer word, word ons al meer bewus van die uurglas wat stadig uitloop. Tyd voel asof dit vinniger verby gaan. Hierdie tyd verlede jaar was dit nog September, en nou is ons vandag al klaar net ‘n maand voor Kersfees. Waar het die tyd heen gevlieg?

Die bepaalde tyd is die meetbare tyd van ons lewens. Vir ons persoonlik is dit die tyd wat ons bewus van is, van ons geboorte tot by ons laaste asem. Ons word al meer bewus dat ons tyd op aarde beperk is, en daarom baie kosbaar is. Daarom kan ons soos Moses dit in Psalm 90:12 bid: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom”. Wysheid begin met die dien van die Here, sê Psalm 111:10. Die kuns van die lewe is om elke dag as ‘n kosbare geskenk uit die hand van die Here te ontvang, en die beste daarvan te maak. Dit vra van ons om bewustelik te lewe, om tyd te maak om die klein dingetjies raak te sien en te waardeer. Dit vra van ons om kosbare tyd in te ruim vir die mense vir wie ons lief is. Tyd saam is ons kosbaarste geskenk aan mekaar. Moenie tyd mors nie. Pasop vir die tydvrate wat ons ure kan steel, soos ons sosiale media gebruik.

Die geheim is om vir vandag te lewe, en vandag voluit te lewe. Die Here gee ons vandag se brood. Hy sorg vandag. Dag vir dag.

Ons is bewus van die onbepaalde tyd. Die tyd wat ons nie kan meet nie. Hoe verstaan ‘n mens die ewigheid voordat ek gebore is? Hoe verstaan ek die ewigheid na my dood? Dit is God se tyd – daar waar ‘n dag vir Hom soos ‘n duisend jaar is, en ‘n duisend jaar soos ‘n dag. (2 Petrus 3:8)

Die Here is groter as tyd, Hy staan buite die tyd. Ek verstaan dit nie, dit vervul my met verwondering. Ek dink iets is waar daarvan dat ons, wanneer ons bepaalde tyd op aarde uitloop, ons die onbepaalde tyd saam met God sal beleef. Ons leef vir vandag. Maar ons is bewus van die ewigheid. In God se hande is ons veilig, ons hoef nie die ewigheid te vrees nie.

Gebed: Here, U het my lewensdae in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. U het my lewe gegee, in hierdie bepaalde tyd wat U vir my gekies het. Help my nou om my dae so te spandeer dat ek wysheid kan bekom. Help my om U met my tyd te dien. Dankie dat ek die bestuur van die onbepaalde tyd veilig in u hande mag los! Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS