Bible Society of South Africa

Oorlog of vrede? - 21 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

8'n tyd om lief te hê, 'n tyd om te haat,

'n tyd vir oorlog, 'n tyd vir vrede.

PREDIKER 3:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Oorlog is ‘n verskriklike woord. Dit vertel van die laagtepunt wat haat in mense se lewens veroorsaak. Dit lei tot grootskaalse vernietiging van lewens, eiendom en drome. Van die eerste Irakoorlog het ons die vermoë om op lewendige televisie te sien hoe die bomme val. Ons sien geskok hoe dit in die Oekraïne en in Gasa op hierdie oomblik gaan. Ons sien die liggame wat weggedra word, en die vernietiging van mense se huise en werkplekke. Ons sien die angs en skok op mense se gesigte wat alles verloor het, en met ‘n sakkie laaste aardse besittings voortstrompel na ‘n vlugtelingkamp. Wat kan daar goed aan oorlog wees? Wanneer kan daar tog ‘n gepaste tyd vir oorlog wees?

In die Ou Testament is daar baie oorlog. Die Here het aan Abraham die belofte van ‘n eie land gegee, as deel van sy Verbond. Die omliggende nasies was nie almal vriendelik nie, en het Israel gereeld aangeval. Ek verstaan onder die tyd van oorlog dat daar ‘n tyd is om op te staan en te verdedig wat vir jou kosbaar is. Dit vra in ekstreme gevalle van goeie mense om nee te sê vir diktators en bose ryke.

Ek glo saam met Efesiërs 6:12 dat die grootste stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die boosheid van hierdie wêreld. Daar is ‘n geestelike oorlog aan die gang van Genesis 3 af in die Bybel, wat sal voortduur totdat Jesus terugkeer. Dis ‘n stryd tussen lig en duisternis, tussen goed en kwaad. Daar is ‘n tyd vir geestelike oorlogvoering, met wapens van gebed.

Daar is ‘n tyd vir vrede. Ons Here Jesus word ook genoem Vredevors. Hy het na hierdie wêreld toe gekom om vrede te bring. Hy het die vrede tussen God en mens kom herstel. Hy help graag om stukkende verhoudings heel te maak, om vrede tussen mens en medemens te herstel. Hy bring vrede in ons eie harte, vrede in myself. En dan stuur Hy ons om vredemakers te gaan wees – ons sal kinders van God genoem word (Matteus 5:9). Dis ‘n moeilike opdrag, maar Paulus herhaal dit in Romeine 12:18 “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” Alle mense aanvaar nie jou hand van vrede nie. Maar hou aan om dit uit te reik. Omdat jy die Vredevors as Here volg, wees jy ‘n vredemaker. As al die Here se kinders dit doen, moet die wêreld ‘n meer vreedsame plek word!

Gebed: Dona nobis pacem! Here, gee ons vrede! Ons wêreld brand, en mense kry seer. U is die Vredevors. Laat u vrede die wêreld oorwin met liefde. Help my om in vrede met alle mense te lewe. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS