Bible Society of South Africa

Wat het Natanael van die Messias geweet? - 18 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

47Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is 'n ware Israeliet, 'n man in wie daar geen bedrog is nie.”

48Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?”

“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”

49Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”

JOHANNES 1:47-49AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jare gelede, toe ek gesukkel het om basiese Skrifgedeeltes te verstaan, het ek besluit om die Bybel baie deegliker te bestudeer. Een so ‘n probleemgeval was Johannes 1:47-49.

Ek het gewonder hoe Natanael, bloot op grond van Jesus se stelling oor die vyeboom, geweet het wie Hy is. Dit het aanleiding gegee tot ‘n studie van Joodse gebruike en die Ou Testament. Ek was vasbeslote om te verstaan wat dit was wat hierdie Joodse man sonder huiwering verstaan het – om eerlik te wees iets wat op daardie stadium vir my Grieks was.

Met verloop van tyd het ek geleer dat die Jode van ouds daarin geslaag het om die Heilige Skrif volgens temas, patrone en motiewe, te memoriseer. So, wanneer iets soos die vyeboom ter sprake kom, sal al die relevante Skrifgedeeltes as ‘n geheel onthou en oorweeg word.

Dit is belangrik om die Skrif te memoriseer, want hoe kan jy dit herroep as jy om mee te begin dit nie ken nie. Ek het toe met klasse begin waar ek die induktiewe metode van Bybelstudie aangeleer het. Keer op keer is ek aangesê om myself te vergewis van die gebruike en kultuur van die bybelse tyd.

Ek het begin om frases in die Nuwe Testament op te soek wat uit die Ou Testament kom. En was ek nie verbaas nie! Die Bybel het op ‘n nuwe manier vir my lewend geword. My geloof het verdiep en my soeke na hierdie juweeltjies het beteken dat ek soveel meer tyd met my Bybel spandeer het, en glo my, dit het my siel verryk.

Ek pleit by julle om die Bybel te lees. Nie noodwendig van voor tot agter as dit jou nie gaan help nie, maar eerder stukkie vir stukkie. Bestudeer dit deeglik en ontdek so die belangrikste boek wat ooit geskryf is. Miskien sal jy dan ook soos Natanael die Bybel beter verstaan. Hy het waarskynlik Sagaria 3:10 onthou: “Op daardie dag,” is ‘n uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, “sal julle mekaar uitnooi om onder die wingerdstok en die vyeboom te kom sit”, en miskien ook Jesaja 11:1: “Maar ‘n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.” En toe het hy besef dat die Takkie nou voor hom staan.

Deur die vervulling van bybelse profesieë, die insig van geleerdes en deur kommentare, het dit vir my duidelik geword hoekom Natanael verstaan het dat hy in die teenwoordigheid van die Almagtige was. Is dit nie wonderlik nie. Hierdie boek word nie verniet die Goeie Nuus genoem nie.

Gebed: Dankie vir die rykheid van u Woord, Here, en vir die openbaring wat ons selfs vandag nog daaruit kan kry. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS