Bible Society of South Africa

Voordat jy in geloof voortstorm - 17 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

Wat geloof is

1Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

HEBREËRS 11:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Woord van God wat oor eeue heen deur so baie mense opgeteken is, is waarskynlik een van die insiggewendste, noukeurigste boeke wat ooit geskryf is om die menslike toestand aan te spreek. Die prosa en digkuns in die Bybel is ongeëwenaard, terwyl die wysheid onvergelykbaar is.

Tog, kort nadat ek besef het dat die woord van God ons vermaan om deur geloof te leef, het ek besef dat ek geen idee het hoe om dit te doen nie. Ons teksvers, Hebreërs 11:1 definieer dit so mooi: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Waarvoor hoop jy? Is dit in lyn met die Bybel, met God, of met jou eie begeertes? Het jy in geloof gebid net om te besef dat niks waarvoor jy gehoop het, gebeur nie? Miskien het jy televisie gekyk en gesien hoe ‘n prediker in geloof iets beveel om te gebeur. Jy het toe ook in daardie trant gebid – niks.

Vele Christene het al ‘n gevoel van teleurstelling in God uitgespreek omdat Hy nie presies waarvoor hulle Hom gevra het gegee het nie, en ook nie geantwoord het op die manier wat hulle wou hê nie. Is dit miskien omdat ons nie die Here van die heelal kan beveel om iets buite sy wil te doen nie? Soos die aarde ‘n voetbank vir sy voete is (Jesaja 66:1, 2020-vertaling), so is ons onderworpe aan sy wil. Hy is immers God, nie ‘n gemaakte wese nie.

Geloof is egter van so ‘n aard dat ons moet glo en nie twyfel nie, maar voordat ons net blindelings glo dat daar ‘n sekere uitkoms sal volg, moet ons dit eers aan God oorgee en Hom vra of dit wat ons in die geloof vra volgens sy wil is of nie. Anders glo ons dalk in kersvader.

Ek vind dat die kere wat ek met ‘n saak worstel dit keer op keer is wanneer ek, instede van om die uitkoms in die hande van die Almagtige oor te gee, Hom beperk om die saak op te los soos ek dit wil hê. Ek is so dankbaar dat God Hom nie deur my dwaasheid laat beïnvloed nie. Hy weet wat die beste is, en soms is daardie dinge waarvoor ons so koorsagtig bid, juis dit wat ons skade sal berokken.

Slegs ‘n alwetende God kan weet hoe om elke gebed wat in geloof gebid word, reg te beantwoord. Wanneer ons ons gebede op sy Woord baseer, sal ons verseker sien hoe God dinge laat gebeur – op sy tyd, op sy manier.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u Woord waarop ons geloof gegrond is. Dankie dat geloof ons lewens verander sodat ons volgens u wil kan leef. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS