Bible Society of South Africa

Wanneer God bonatuurlik opdaag – 16 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

8Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle is teen jou bestand nie.”

13Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna 'n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie.

Vyf weermagte wat saamspan om ’n stad in te val. Die son en maan wat in die lug gaan stilstaan. En God wat die finale oorwinning bewerkstellig. Hierdie verhaal klink amper soos ’n lokprent vir ’n aksiefliek. Ons vind egter die storie in Josua 10.

Josua en die Israeliete het die beloofde land betree en sover hulle getrek het, het God hulle gehelp om die grondgebied te verower. Die konings in die land het bang geword – veral toe hulle hoor dat Gibeon, een van die magtige stede in die land, ’n vredesverdrag met die Israeliete gesluit het. Die konings in die land het geweet dat as die Israeliete en die stad Gibeon se vegters saamspan, geen stad wat hul aanval, staande sou bly nie.

In reaksie op die vredesverdrag het vyf konings saamgespan om Gibeon in te val – in ’n poging om Israel te stuit. Die koning van Gibeon het ’n boodskap na Josua gestuur en hulp gevra. Gou het Josua en sy magtige krygers vertrek om te gaan help omdat hul ’n belofte van God gehad het: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle is teen jou bestand nie.” (Joshua 10:8, 1983-vertaling).

Nadat hulle deur die nag getrek het, het hulle die vyand die volgende oggend onkant betrap. ’n Groot veldslag het plaasgevind. Haelstene het selfs uit die lug geval wat ’n klomp van die vyand se krygers vernietig het.

In die verloop van die veldslag het Josua besef dat die dag te kort is vir die aanval. Hy het voor God gaan staan en hard en duidelik gevra dat Hy die son en maan laat stilstaan. In Josua 10:13 lees ons: “Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het.” God het saam met die Israeliete oorlog gevoer.

Soms vergeet ons hoe groot hierdie God is wat ons aanbid. Hy kan die son en maan laat stilstaan omdat Hy die heelal in die palm van sy hand vashou. Hy kan jou gebroke huwelik red, jou genees van die “ongeneesbare siekte” en jou finansiële verknorsing omdraai. Hy kan jou help om jou vyande te verslaan. Mag ons met selfvertroue ons dag instap wetende dat Hy die soewereine God is. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U almagtig is en in beheer van my lewe bly. Help my asseblief om nie in vrees te leef nie, maar om myself te herinner aan wie U is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS