Bible Society of South Africa

Die kragtige Woord – 15 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

22Vir wie het jy beledig en belaster?

Vir wie het jy geskreeu en uitgedaag?

Die Heilige van Israel!

2 KONINGS 19:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

105U woord is die lamp wat my die weg wys,

die lig op my pad.

PSALMS 119:105AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die woord as swaard

12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

HEBREËRS 4:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

’n Vers-n-Dag leser skryf onlangs vir my:

Jan: “In 2009 het ek ’n pragtige beesplaas in die Vrystaat gekoop met kameeldoringbome, rosyntjie en vaalbos. Nadat ek bees op die plaas gevestig het, het ek ook 40 jong verse aangekoop om my kudde uit te brei. Water in die deel van die Vrystaat was egter skaars en boorgate was diep. Elke druppel water was benut en geen water is vermors nie.

“In ’n stadium het ’n kritiese boorgat op die plaas opgedroog. Dit het ’n krisis geskep. Omdat ek geen alternatiewe gehad het nie, het ek ernstig na God gedraai. Terwyl ek begin bid het vir wysheid en leiding, het ek my Bybel oopgeslaan en 2 Konings 2:19-22 raakgelees. Dit was ’n tyd in Jerigo waar die water vir die mense giftig geraak het. Die profeet Elisa beveel hulle om ’n nuwe skottel en sout te gaan koop en dit in die water te gooi. Dit het die probleem herstel.

“Vir my het dit gevoel asof God vir my hierdie opdrag gee. In gehoorsaamheid het ek die bak en sout gekoop en dit in die gat gegooi. ’n Paar dae later was die water terug. Tot vandag lewer die boorgat water.

“Jare later het dieselfde situasie my gekonfronteer. Dié keer het ek 400 bome in een van die boorde op ’n plaas in die Klein Karoo geplant. Alhoewel die plaas met sterk onderwater geseën is, het een van die boorgate na ’n droogte van sewe jaar opgedroog. Dadelik het ek na die Woord wat ek vroeër ontvang het teruggegaan. Ek het sout in die gat gegooi. Dinge het egter nie dadelik verander nie. In geloof is ek vir ’n tweede en derde keer terug na die gat met sout. Eers hierna het die water teruggekeer. Ook hierdie gat lewer tot vandag toe water.

“My ondervinding het my geleer dat ons moet wegkyk van probleme en beproewinge en ons aandag op God se onfeilbare Woord moet vestig. As ons Hom vir wysheid vra, antwoord Hy inderdaad.”

Jan is reg. God se Woord is lewend en kragtig. In Psalm 119:105 lees ons: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (1933/1953-vertaling) Ook in Hebreërs 4:12 staan geskryf: “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg.” (1983-vertaling)

Watter uitdaging staar jy vandag in die oë? God se Woord is stééds ’n lig vir ons pad. Kom ons vertrou Hom om ons te lei en ons geloof sterk te hou – veral as dit langer neem om ’n deurbraak te beleef. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie vir u Woord. Praat asseblief met my en help my om deurentyd gehoorsaam te bly. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS