Bible Society of South Africa

God red – 17 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

MATTEUS 11:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

19Die Here is naby die gebrokenes,

Hy help die moedeloses.

PSALMS 34:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Richland County Sheriff se departement in Amerika het onlangs ’n kort video op sosiale media gelaai van hoe ’n jongman wat op ’n brug sit om sy lewe te beëindig gered word. Die empatie waarmee die polisieman in die video die gesprek met die jongman voer het my getref. In ’n stadium bel hulle die jongman se ouers wat hulle in trane na die toneel haas.

Die video het my laat dink aan hoeveel mense rondom ons ook op ’n “onsigbare brug” staan – jou kollega, buurvrou, huweliksmaat of selfs ’n kind. Alhoewel ons nie die brug kan sien nie, is hulle besig om moed te verloor. Dalk staan jy ook vandag op só “brug”? Die vyand doen sy bes om ons daar te kry – of daar te hou.

God is egter soos die ouers van die jongman wat hulle na die brug haas en hulle kind omhels. Hy wil ons beskerm en in staat stel om met nuwe oë na ons lewens te kyk. In Matteus 11:28 lees ons: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Ook in Psalm 23:4 lees ons: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.” En in Psalm 34:19 word ons herinner: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” (Teksverse: 1983-vertaling)

Mag ons vandag soos die polisieman bewus wees van mense rondom ons wat hoop benodig. En as jy voel of jy op die brug staan, mag jy opnuut God se arms om jou voel. Hy is nader as wat jy dink of as wat dit soms voel. Sterkte.

Gebed: Vader God, help my om vandag bewus te wees van u teenwoordigheid in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS