Bible Society of South Africa

Waarom die swaarkry in hierdie wêreld? – 17 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

Julle moet nie van My afvallig word nie

1“Hierdie dinge sê Ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie. 2Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs 'n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. 3En dit sal hulle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie. 4Maar Ek sê dit nou vir julle, sodat wanneer die tyd daarvoor aanbreek, julle daaraan moet dink dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.”

JOHANNES 16:1-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons wil so graag hoor dat ons toekomspad mooi gaan wees, want ons volg in Jesus se voetspore as sy dissipels. Ons glo dat daar deur sy wonde vir ons genesing gekom het (Jesaja 53:5) Ons glo dat die Here voorsien in alles wat ons nodig het om te lewe, en Hom te dien (2 Petrus 1:3) Dit is alles waar.

Tog beleef God se kinders steeds moeilike tye in hierdie wêreld. As ons mooi nadink oor Jesus se woorde, het Hy nooit belowe dit gaan maklik wees om Hom te volg nie. Hy het gesê die poort na die lewe is nou, die pad na die hemel is smal. (Matteus 7:14) Hy het gewaarsku: wie Hom wil volg, moet bereid wees om sy eie kruis op te neem, en sy ou lewe te versaak om agter Jesus aan te stap (Matteus 16:24)

Jesus berei sy toekomstige kerk ook voor op moeilike tye, soos die eindtye nader beweeg. Hy het juis gewaarsku dat dit erger gaan word. Mense gaan ander doodmaak in die naam van godsdiens, en dink hulle bewys God ‘n guns deur te moor. Die geskiedenis het hierdie voorspelling waar bewys, en dit gaan steeds voort vandag. Mense is bereid om hulle naaste, wat anders as hulle glo, dood te maak en te dink dit sal God behaag. Jesus waarsku in Johannes 16:3 dat mense wat dink aan moord pleeg nie die Vader ken nie, en ook nie Jesus nie. Die Vader het dan juis vir Jesus uit liefde gestuur om die wêreld te kom red (Johannes 3:16 en 15:9) Die hart van die evangelie van Jesus is liefde vir God, en vir my naaste. Daar is geen rede om jou naaste te vervolg en te vermoor in die Naam van die Here nie! Ons staan dikwels skaam oor wat al in die kerkgeskiedenis plaasgevind het in die Naam van die Here, soos die kruistogte en die Spaanse Inkwisisie. Jesus se boodskap is die goeie nuus vir die hele wêreld, die belofte van nuwe lewe deur geloof in ‘n liefdevolle, genadige God.

Jesus waarsku: vervolging en moeilike tye is nie onverwags in die kind van God se lewe nie. Hulle het Hom dan net so vervolg, ons kan nie anders verwag nie. Maar dit spoor ons aan om met nog meer liefde uit te reik, en met die wêreld rondom ons die lig van Jesus te deel.

Gebed: Here, elkeen van ons het al seergekry deur mense wat in u Naam verkeerde dinge gesê en gedoen het. Bewaar my daarvan dat ek nooit geweld en haat in u Naam goedkeur nie, maak my juis ‘n boodskapper van u liefde en u hoop in hierdie uitdagende tye. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS