Bible Society of South Africa

Die werk van die Heilige Gees – 18 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

4Maar Ek sê dit nou vir julle, sodat wanneer die tyd daarvoor aanbreek, julle daaraan moet dink dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.”

Die werk van die Heilige Gees

5“Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie. 6Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid. 7Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. 9Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; 10die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; 11die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.

JOHANNES 16:4-4:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus se aardse bediening is byna voltooi die aand voor sy kruisiging. Hy moes nou deur die diepste dal daarvan gaan, deur aan die kruis te sterf. Hy sou opstaan, en na 40 dae opvaar hemel toe om sy hemelse bediening voort te sit. Die dissipels sou ontsteld wees dat Jesus nie meer fisies by hulle sou wees nie.

Jesus sê dis tot gelowiges se voordeel dat Hy weggaan. Hy gaan terug na sy Vader se troon toe, waar Hy aan sy Vader se regterhand sit, en vir die gelowiges intree, leer Paulus in Romeine 8:34.

God die Heilige Gees, die Parakleet, kom met die Pinksterdag na elke gelowige toe, om in ons te woon, en ons te lei in die waarheid. Vandag se teks deel drie werke wat die Heilige Gees in hierdie wêreld doen. Eerstens oortuig Hy van sonde. In hierdie wêreld is ons mense taamlik oortuig van ons eie insig en opinies. Ons dink van nature ons het God nie nodig nie. Wanneer die Heilige Gees begin werk in ons lewe, sien ons vir die eerste keer watter geweldige impak sonde op ons lewe maak. Ons word oortuig dat ons dit nie self kan hanteer nie. Ons het ‘n Verlosser nodig wat ons hartgrondig kan vernuwe. Tweedens oortuig die Heilige Gees van geregtigheid. Hy stel ons in staat om die verlossing van Jesus in ons lewe te aanvaar, en reg met God te word. Dis die werk van die Heilige Gees, lank voordat dit ons eie keuse is! En derdens kom die Heilige Gees en oortuig van oordeel. Daar is ‘n dag van afrekening op pad. Onthou Jesus het in Johannes 3:17 gesê dat Hy nie na die wêreld toe gekom het om dit te oordeel nie, maar om mense te red. Daar kom ‘n dag wanneer die genadetyd verby gaan wees, en elkeen voor God se regterstoel gaan staan. Ons mense het nog geleentheid om God se genade nou te aanvaar. Maar die bose, die heerser van hierdie wêreld, se genade is lankal opgebruik, hy is reeds veroordeel. Hy sal sy loon kry vir die seer en stukkendheid van hierdie wêreld. Vir ons bring die Heilige Gees die goeie nuus van nuwe lewe, verlossing in Christus.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U vir my intree by die troon van my Vader. Dankie dat U vir ons die Heilige Gees gestuur het, wat ons lewe gee en lei in die waarheid. Gees van God, lei my en vorm my soos U my graag wil hê. Amen.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS