Bible Society of South Africa

Meester van die heelal – 16 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

6Deur die woord van die Here is die hemele gemaak,

deur sy bevel al die hemelliggame.

Een van my geliefkoosde tydverdrywe as ‘n kind was om vasgenael voor die TV te sit en na die kindergunstelinge “He-Man and the Masters of the universe” te kyk. Die idee van superkragte het my as kind gefassineer, nie veel anders as vandag se obsessie met superhelde, veral die afkomstig uit die Marvel-stal, nie.

Ek was ‘n bietjie ouer toe ek die God van die Bybel ontmoet het, en soos ek Hom beter leer ken het, het ek gou besef wie die werklike “Master of the universe” is.

“Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame.” (Psalm 33:6)

Ons ontdek ‘n God van die onmoontlike: ‘n God wat die lewens van sy dienaars deur bonatuurlike krag kan red, selfs wanneer alles teen hulle gekant is.

Ek dink aan Sadrag, Mesag en Abednego, wat standpunt vir God ingeneem het en hulle toe in ‘n stryd met die koning bevind het. Hulle is wonderbaarlik uit die brandende oond van ‘n seker dood gered. Die oond het toe reeds die lewens geëis van die manne wat hulle vasgebind en ingegooi het. Die hare op die koppe van die drie wat gered is, was nie eens geskroei nie.

En wat van Daniël? Hy is uit die leeukuil gered voordat die leeus hom kon verorber. Hy het daar beland toe hy valslik beskuldig is deur belangrike mans wat hulle bedreig gevoel het. Daar was geen letsel aan Daniël toe hy uit die leeukuil gehaal is nie – God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit.

Dan is daar ook Israel, die volk wat God droogvoets deur die Rietsee gelei het en hulle so uit die hand van die magtige Egiptiese leër gered het.

Die dissipels van die Nuwe Testament kon getuig dat Hy die Een is wat die golwe kon laat bedaar deur te sê: “Hou op! Bedaar!” (Markus 4:39) en die wind het gaan lê.

In Johannes 1:1-3, ‘n weerspieëling van Genesis 1:1, herontdek ons die God vir wie dit moontlik was om die hele skepping wat ons sien uit niks te maak. “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.”

Hy is die Een wat ‘n mens geword en onder ons kom woon het. Hy is ook die Een wat eendag brullend soos die Leeu van Juda sal terugkom en al sy vyande in die proses sal veroordeel en vernietig. Die helde van “The Avengers” is niks in vergelyking met Hom nie. Deur die Woord word daar konsekwent ‘n God aan ons geopenbaar wat werklik vir ewig die Meester van die heelal is.

Gebed: Dankie Here vir die voorreg om toegang tot u onfeilbare Woord te hê wat ons na U toe lei en ook vir ons wys hoe om die Meester van die heelal volkome te vertrou. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS