Bible Society of South Africa

Versoening aan die kruis - 17 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

22“Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit 'n leuen gekom nie.”

23Toe Hy beledig is,

het Hy nie terug beledig nie,

toe Hy gely het,

het Hy nie gedreig nie,

maar alles oorgelaat

aan Hom wat regverdig oordeel.

24Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.

1 PETRUS 2:22-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Bybel sê dat Jesus, die enigste Seun van God, het gekom om die wêreld van sonde te verlos en ons met God te versoen. Hy het op ‘n wrede manier aan die kruis ons skuld betaal.

Hierdie gebeure het om een rede plaasgevind: God se liefde vir ons. “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.” (1 Johannes 4:10)

Hier op aarde was Jesus volkome mens – fisies, emosioneel en geestelik. Die kruisigingsverhaal beskryf sy lyding. Hy het onder andere daardie pynlike emosie van verwerping ervaar. In Matteus 26 lees ons dat een van sy eie, Judas, Hom verwerp het deur Hom te verraai en Petrus het Hom verloën. Verwerp ons Hom nie ook soms deur ons gedrag nie?

Aan die kruis het Jesus ook fisies gely. Die evangelies gee nie al die bloederige besonderhede van ‘n kruisdood nie, maar daar is genoeg om ‘n mens te laat besef dat dit ‘n wrede dood was. Aan daardie kruis het Hy ook die ergste geestelike lyding moontlik beleef toe sy Vader van Hom weggedraai en Hy uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27:46b) Hierdie skeiding het gelukkig nie vir ewig geduur nie, want hierna het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Lukas 23:46) en is Hy met sy Vader herenig.

Jesus se lyding aan die kruis was vir ons. Hy het dit deurgemaak sodat, alhoewel ons God nog net gedeeltelik ken, ons Hom eendag ten volle sal ken soos Hy ons ten volle ken. (1 Korintiërs 13:12), Miskien is jou lewe moeilik, maar as jy aanvaar dat sy dood aan die kruis jou met God versoen het, kan jy seker wees dat jy nooit weer van God verlaat sal word nie. Leef dus voluit, want Jesus het jou skuld betaal en jou met God versoen. Jy is nou in Christus soos Hy ook in jou is. Lees gerus weer Johannes 15.

Ek glo in Jesus Christus wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het, begrawe is …

Gebed: Here Jesus, dankie dat U, gedring deur liefde, ook vir my sonde betaal het. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS