Bible Society of South Africa

Jesus het opgestaan - 18 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

14En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. 15Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. 16As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 19As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

1 KORINTIËRS 15:14-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

‘n Vriend van my het eendag tot my skok aangekondig dat hy nie langer in die fisiese opstanding van Jesus glo nie. Ek kon dit toe nie verstaan nie, maar later het ek uitgevind dat daar al vir eeue ‘n debat, selfs onder Christene, hieroor aan die gang is.

Wat sê die Bybel? Die evangelieskrywers beskryf nie die aktiewe daad van die opstanding nie, maar gee wel vir ons ‘n aantal feite. Jesus het werklik gesterf. Lees Johannes 19:33-35. Al vier die evangelieskrywers vertel dat die baie swaar klip voor die graf weggerol is. (Matteus 28:2) Die liggaam in daardie graf wat versigtig deur die Romeine verseël en bewaak is, was weg. (Lukas 24:1-3) Slegs die netjies opgevoude linnedoeke waarin die liggaam toegedraai was, was daar. Die Bybel gee ook ‘n hele lys van getuienisse wat die opgestane Jesus gesien het, onder andere vroue wat die graf besoek het (Lukas 24:10), Petrus en die ander dissipels, die Emmausgangers en, volgens Paulus, “meer as vyf honderd broers” waarvan teen die tyd wat hy hierdie brief geskryf het sommige al dood was maar die meeste nog gelewe het. (1 Korintiërs 15:3-8)

Wat doen ‘n mens met hierdie feite? Rasionaliste het deur die eeue verskeie verklarings vir die opstanding gegee, byvoorbeeld dat die vroue doodeenvoudig die verkeerde graf besoek het. Moontlik, maar dit beteken die Romeine, die Jode en selfs die eienaar van die graf, Josef van Arimatea, wat Jesus begrawe het, dit almal verkeerd gekry het. In die 19de eeu was daar ‘n teorie dat Jesus nie regtig gesterf het nie. Lees wat historici oor kruisiging sê en besluit vir jouself. Daar is ook ‘n teorie dat die liggaam gesteel is. Die Romeine wou Jesus uit die pad hê, die Jode wou Hom dood hê en dit laat die dissipels. Miskien moontlik, maar na my mening sou dit beteken hulle moes doelbewus en passievol ‘n leuen leef en ook vir hierdie onware geloof vervolg word. Hoekom?

Daar is ‘n ander moontlikheid vir rasionaliste, ongelowiges en Christene wat nie in die opstanding glo nie, om te oorweeg – miskien het God die Almagtige, Jesus wat gesterf het, uit die dood opgewek. Lees weer ons teksvers. Sonder die opstanding is ons geloof hopeloos.

Ek glo in Jesus Christus wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ons ‘n opgestane, lewende Jesus aanbid. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS