Bible Society of South Africa

Versamel dit wat baie werd is - 19 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

3Daar is verstand nodig om 'n huis te bou,

insig om sy fondamente te lê,

4kennis om sy kamers te vul

met allerhande kosbare en mooi goed.

SPREUKE 24:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie teks het my laat dink aan toe ons ‘n paar jaar gelede “Kamers vol geskenke” besoek het. Daar word allerlei mooi dinge aangebied. Tuisgemaakte goed, kuns, juweliersware en nog baie ander. Baie mooi en baie interessant. Ander “kamers” wat ek baie goed onthou is Duwisib kasteel in Namibië, die klein Sendingkerk museum in King Williamstown, Reinethuis in Graaff-Reinet en baie ander plekke met soveel kamers vol kosbare en mooi dinge.

Stap ek deur my eie huis is die kamers ook gevul, dalk nie met sulke kosbare dinge soos in museums en paleise nie, maar met dinge wat vir my kosbaar is, dinge wat ‘n leeftyd van bymekaarmaak weerspieël. Ons lewens is ook ‘n huis wat gebou word, hopelik op die fondament van wysheid en verstandigheid. Die huis bestaan uit kamers wat leeg is en deur ons gevul moet word.

Waarmee maak ons hierdie lewenshuis se kamers vol? Met baie dinge, veral die teenwoordigheid van mense soos ons gesin, familie, vriende, kollegas en medegelowiges. Verder ook ervarings van lief en leed, geloof, herinneringe, ja alles wat ‘n mens se lewe uitmaak. Ongelukkig maak ons dit dikwels vol met onnodige lewensrommel. Die kamers in sommige museums en ander mense se huise het my al beklem omdat dit te oorvol is. Ander was weer strak en koud en onvriendelik en het my glad nie aangespreek nie.

Net so kan ons lewenskamers ook oorvol wees van wêreldse bekommernisse of besittings, slegte verhoudings, woede, ‘n sug na meer geld en baie ander sulke dinge. Dit kan aan die ander kant koud en liefdeloos wees. Die spreuk van vandag sê vir ons dit vra kennis om ons lewenskamers te vul met kosbare en lieflike dinge. Hierdie kennis kom eers nadat ons huis met wysheid en verstandigheid opgerig is. Die wysheid en verstandigheid en kennis is ‘n geskenk van God vir almal wat dit graag wil hê. Kom ons vul ons lewens veral met die lieflikste van alle dinge, die liefde self, waarvan Paulus in 1 Korinthiërs 13 skryf.

Gebed: Here, maak my asseblief ook ‘n versamelaar van die kosbaarste dinge soos hoop en geloof en liefde. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS