Bible Society of South Africa

God is ons beskermer - 18 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

10Die Naam van die Here is 'n sterk vesting;

die regverdige vind daar skuiling.

SPREUKE 18:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Torings het my nog altyd gefassineer. Oral waar ons in die land rondry neem ek foto’s van kerke en kerktorings. Die NG Kerk in Aberdeen het blykbaar een van die hoogste torings in die Oos-Kaap, indien nie in die land nie. Ek was bevoorreg om, toe die toring ‘n paar jaar gelede herstel en geverf is, met ‘n soort hysbak aan die buitekant op te ry. Onlangs het ek ook in die toring van die NG Kerk Uniondale opgeklim – wat ‘n ervaring. Kerktorings, veral op die platteland, roep ‘n mens al van ver af en strek uit na God.

In Bybelse tye en selfs voor die tyd van Abraham was torings gewoonlik ‘n belangrike deel van ‘n stad se verdediging. Die torings was baie stewig van klip gebou met trappe aan die binnekant waar die verdedigers veilig na bo kon klim. Op ou tekeninge kan ‘n mens sien hoe die verdedigers, veral boogskutters en spiesgooiers, aanvallers vanuit die torings, wat op die stadsmuur gebou is, bestook. Binne so ‘n toring was dit ook baie veilig vir die verdedigers omdat die vyand nie maklik daar kon inkom nie.

Dit is so ‘n sterk toring wat die skrywer van hierdie spreuk in gedagte het. Die toring is egter nie van klip gebou nie, maar is die naam van die HERE self. Die naam van die HERE beteken in hierdie geval God in sy totale geopenbaarde Wese. ‘n Mens dink onwillekeurig aan toe Hy hom aan Moses openbaar het as “Ek is wie Ek is.” Wat hier letterlik staan, is dat God in sy grootheid en almag ‘n skuilplek is vir elkeen wat dit wil hê. Maar dit is nie outomaties so nie. Alhoewel die skuilplek altyd beskikbaar is, vra dit van my ook ‘n sekere aksie. Ek moet dit binne hardloop, ek moet die skuilplek benut.

Wanneer ek by God ingehardloop het, beloof die teks, sal ek onbereikbaar wees. Letterlik vertaal beteken dit ek sal daar so hoog in die toring kan wegkruip dat geen vyand my kan bereik nie. Lees gerus wat Paulus hiervan sê in Romeine 8:38-39.

Gebed: Dankie dat U ook vir my ‘n sterk toring is waar ek teen die aanslae van die lewe kan wegkruip. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS