Bible Society of South Africa

Soet soos heuning - 20 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

13Eet heuning, my seun, dit is lekker;

die stroop is soet in jou mond.

SPREUKE 24:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

27Om te veel heuning te eet, is nie goed nie,

ook nie om eer te bly soek nie.

SPREUKE 25:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

My familie en vriende spot al so ‘n bietjie met my oor my groot liefde vir heuning. Waar ek ook al in die land rond ry, koop ek heuning van daardie omgewing. As kind langs die Oranjerivier in Groblershoop was dit vir my een van die wonderlikste dinge om saam met my pa na oom Compaan toe te ry en te kyk hoe hy ons groot pienk en groen blik vol goue koeke lusernblomheuning maak. Ek kon gewoonlik nie wag om by die huis te kom en die hemelse lekkerte te proe nie.

Die spreuk sê vir ons heuning is goed. Behalwe dat dit hoë voedingswaarde het, weet ons heuning kan ook as salf op wonde gebruik word. Dit help teen hooikoors, en vir seerkeel is ‘n teelepeltjie heuning net die ding, maar die spreuk waarsku teen oordadige gebruik. Die les het ek baie vroeg in my lewe geleer. ‘n Oormaat heuning lei tot die allerverskriklikste maagpyn.

Eiewaarde en ‘n goeie selfbeeld is ook goed. ‘n Mens moet iets van jouself dink, anders gaan ander mense gewoonlik ook nie veel van jou dink nie, maar ons spreuk sê: “die soeke na eie eer is oneervol”. Om dus weer te veel van jouself te dink, laat ook nie juis ruimte vir ander om iets van jou te dink nie. Dit beteken nie dat ek nie mag strewe na die hoogste sport in my beroep, die sportsoort wat ek beoefen of wat ook al nie, maar hoe ek dit doen, is wat saak maak.

Die woord “soek” in die teks beteken om gedurig jou eie eer na te jaag. Die najaag van eie eer is gewoonlik ten koste van iemand anders. Die Bybel praat op baie plekke oor hoe die Here die nederige baie hoog ag. Ons hoef nêrens kruiperig te wees nie, maar ons moet oral nederig wees. Genoeg lekker heuning is goed, te veel gee maagpyn. Eiewaarde is goed, maar te veel maak my onuitstaanbaar vir ander mense en dien nie God se doel met my nie.

Gebed: Ons bid dat U ons sal help om te verstaan dat dit goed is om ‘n goeie selfbeeld te hê, maar ons daarvan sal bewaar om te vol van onsself te wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS