Bible Society of South Africa

Uitgestrooi op die akker - 21 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

HANDELINGE 8

Saulus vervolg die kerk

1Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur.

Daardie dag het daar 'n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria.

HANDELINGE 8:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die eerste gemeente het talle dinge gehad wat moes aandag kry. Reëlings vir waar die etes en nagmaal elke dag gehou word. Tyd moes ingeruim word vir eredienste waar gebid en na die lering van die apostels geluister is. Klagtes dat die Griekssprekende weduwees afgeskeep word, beteken daar moes diakens gekies word om die probleem aan te spreek. Soos wat mense eiendom verkoop het en die geld vir die apostels gebring het, moes dit geadministreer word.

Bo alles was daar die taak om die blye boodskap aan soveel moontlik mense in Jerusalem te verkondig. Daar was ook nog die drieduisend wat op Pinksterdag tot bekering gekom het. Hulle moes met die volle inhoud van die evangelie onderrig word. Dit klink omtrent soos ‘n hardwerkende gemeente met ‘n baie vol program iewers in een van ons moderne stede.

Geen wonder dat hulle nog nie kon aandag gee aan die uitdra van die boodskap na Judea, Samaria en die uithoeke van die aarde nie. Dan gebeur iets drasties. Nadat Stefanus deur die Sanhedrin veroordeel en gestenig is, het daar ‘n hewige vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan. Die gevolg hiervan was dat ‘n groot deel van die gemeente gevlug het na Judea en Samaria.

Mense mag dink God het die vervolging laat plaasvind om die evangelie te versprei, maar ek glo nie so nie. Ek het dit nog nooit teëgekom dat God iets slegs met ‘n mens laat gebeur sodat iets goeds daaruit kan kom nie. Soos ek God verstaan, werk Hy nie so met sy geliefdes nie. Wat wel belangrik is, is dat wanneer die vervolging wel plaasvind, gryp die gelowiges die kans aan om die evangelie uit te dra. Hulle kruip nie weg in Judea en Samaria nie, want ons lees in Handelinge 8:4: “Die wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig”.

Daar is rondom ons ook nog baie mense in ons eie “Judea en Samaria” wat die boodskap moet hoor. Ons moet nie toelaat dat ons besige lewens ons so vasbind dat ons nie meer tyd het om die evangeliewoord te verkondig nie.

Gebed: Ons bid vandag dat daar oral in ons land en dwarsoor die wêreld waar mense besig is om u boodskap van verlossing te bring, groot vrug sal wees. Amen

 

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS