Toegerus om te getuig - 20 Mei 2024
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
HANDELINGE 2
As kind het ek altyd so ‘n bietjie gegril as ek hierdie vers in die Bybel lees, want in my verbeelding het ek goed wat soos ‘n mens se tong lyk gesien wat op die mense by die Pinksterfees kom sit het. Toe ek ouer was, het die prentjie verander. As jy met lekker droë kameelhout vuur maak, is dit mooi om die rooi vuurtonge in die lug te sien lek. Pinksterdag se vuurtonge het my aan so ‘n vuur laat dink. Nog later toe ek met die Griekse taal begin worstel het, het ek besef dat die woord vir tong en vir taal basies dieselfde is. Die vuurtonge was ‘n teken van die boodskap oor Jesus wat vertel moes word.
Gister met Pinksterfees het ek weer besef die gemeente van Christus bestaan nooit net as gemeenskap van verloste mense nie, maar altyd ook as gemeenskap van gestuurde mense. Dit is mense met “tonge” wat moet vertel van die verlossing in Jesus Christus. Ai tog, maar ons is so dikwels bang om te getuig. Ons is mos maar menslik, bang iemand sal met jou spot omdat jy getuig, bang mense sal dink jy dweep, bang jy sal iets verkeerd sê.
Die eerste gelowiges was aanvanklik ook bang, so bang dat hulle agter geslote deure vergader het. Selfs na die opstanding sluit hulle nog die deure. Hoe is dit moontlik dat net vyftig dae later hulle in die strate kon getuig? In sy toespraak op Pinksterdag haal Petrus aan uit Joël 2:28 en verder. “Na hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense. Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer …”. Die gawe van profesie. Jy en ek het dit ook gekry, want ons het die Gees ontvang. Tog profeteer ons maar selde. Om te profeteer beteken nie om allerlei voorspellings te kan doen nie, maar om te kan vertel oor “die groot dade wat God gedoen het”. Kom ons bid dat die Here ons so sal toerus dat al ons vrese verdwyn.
Gebed: Liewe Vader, ek bely vandag openlik dat ek maar swaarkry om orals openlik te getuig. Kom my swakheid te hulp. Amen