Bible Society of South Africa

Gelei deur die Gees - 22 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

JOHANNES 16

13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.

JOHANNES 16:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak. Johannes 16:13, 2020-vertaling

Vir die vroeë kerk was dit uiters belangrik om die pad reg te loop, want die opdrag wat Jesus vir hulle gegee het, was ‘n pad waarop niemand nog geloop het nie. Daar het in ‘n kort tydjie geweldige dinge gebeur. Jesus is gekruisig, het opgestaan, opgevaar na die hemel, die Heilige Gees het op hulle gekom, Stefanus is gestenig en die gelowiges moes vlug vir hulle lewe. ‘n Mens wonder hoeveel van hulle bogenoemde woorde van Jesus onthou het. In hierdie vers is die aanwysigings vir hoe die pad geloop moes word baie duidelik: Laat die Gees van God self julle lei. Dit is natuurlik nog net so waar vir ons as vir hulle.

Dit is maklik om te sê – laat die Gees julle lei, maar wat beteken dit regtig vir ons. Kom ons deel dit in drie dele op.

Eerstens lei die Gees ons in die hele waarheid. Doodgewoon beteken dit dat die Gees vir ons die volle openbaring aangaande Jesus Christus wil bekendmaak. Wanneer ‘n mens vir die eerste keer op ‘n vreemde pad gaan, moet jy deeglik gaan kyk na hoe om daar te kom, hoe die oppervlakte van die pad lyk, kan jy langs die pad kos en water kry en nog baie ander dinge. Ons is baie gelukkig dat ons dit alles in die Bybel opgeteken kry. Daar is die instruksies glashelder. Die Gees wil dus nie nuwe dinge aan ons bring nie, net maar die feite van die Woord vir ons bevestig en verhelder.

Tweedens wil die Gees ons verder help hoe om Christus deur ons hele lewe te verheerlik. Wanneer ons dit doen, word God verheerlik, wat op die ou end die hoofdoel van ons hele lewe is.

Derdens gee die Gees deur die Woord vir ons praktiese wenke waaraan jy jou vordering op die pad kan meet. Is dit wat ek doen tot eer van God – is dit tot opbou van my naaste en ja ook myself – is dit tot opbou van die kerk – lei dit tot geestelike groei? Die Gees wil ons lei. Hoe gewillig is ons om te volg?

Gebed: Ons dank U dat u Gees vir ons elke dag die regte pad aanwys. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS