Bible Society of South Africa

U staf stel my gerus - 10 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

Dit is vertroostend om te weet dat die staf wat die herder in bybelse tye gebruik het, bedoel was om roofdiere af te weer en nie om die skape mee seer te maak nie.

‘n Leeu, wolf of beer of watter roofdier ook al, moes eers verby die skaapwagter kom voordat hy sy kloue in die skape kon slaan. Op dieselfde manier moet ons aartsvyand, die duiwel, God eers nader voordat hy ons in die versoeking kan lei of ons kan seermaak. Ons Hemelse Vader sal nie die duiwel toelaat om enigiets sonder sy toestemming te doen nie, en dan ook net as daar op die ou end iets goed daaruit sal voortvloei.

Jesus self het gesê dat Hy nie een, behalwe die een wat Hom verraai het, verloor het nie. “Toe Ek by hulle was, het Ek hulle wat U aan My gegee het, in u Naam bewaar. Ek het hulle ook beskerm; en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.” (Johannes 17:12)

Verder lees ons in 2 Petrus 3:9 dat die Here ons almal as deel van sy kudde wil hê. “Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

Boonop lees ons in Johannes 10:10 dat Jesus gekom het sodat ons lewe in oorvloed kan hê, terwyl die duiwel gekom het om te steel en uit te roei. Die beeld van die skaapwagter en sy staf waarmee hy sy skape lei en beskerm, bied soveel troos en hoop. Solank as ons Jesus volg – die Skaapwagter wat elkeen van ons ten volle ken, wat weet wat die beste vir ons is, altyd daar is en wat ons tot die bitter einde sal versorg.

Dit is waar dat ons as mense somtyds kies om te sondig. Ons is nog nie volmaak nie en het ‘n geneigdheid tot die sonde. So, alhoewel ons gered is, het die sonde steeds gevolge. Daarom is die lewe op aarde nie sonder probleme nie en is ons nie van pyn en lyding vrygestel nie. Ons moet egter dankbaar wees dat ons ‘n liefdevolle, welwillende Herder het wat altyd na ons omsien en ons beste belange op die hart dra.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u goedheid. Dankie dat U nooit opgee nie, maar altyd oor ons waak en ons beskerm, selfs al is ons geneig om af te dwaal. U bring ons altyd met liefde terug na u kudde en is altyd bereid om ons uit die kloue van die wolwe te red. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS