Bible Society of South Africa

Die skape luister na die Skaapwagter se stem - 9 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

27My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.

JOHANNES 10:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elkeen van ons is op ons eie persoonlike reis met God. Ons hoor sy stem en ons volg Hom. Ten minste, dit is hoe dit behoort te wees. Die probleem ontstaan wanneer ons die boodskap nie duidelik hoor nie en as gevolg daarvan foute begaan.

Soms neem ek myself kwalik omdat ek nie behoorlik na die stem van die Here luister nie, maar eerder na die sluwe duiwel wat ook sy boodskap in my oor fluister. Of soms voel ek soos ‘n mislukking wanneer ek reageer op iets wat ek dink God aan my geopenbaar het en dan ‘n fout begaan. Die meeste van die tyd kon ek hierdie uitkomste vermy het, as ek net eenvoudig die Bybel geraadpleeg en dit vertrou het. Dit is God se volmaakte boodskap.

Gelukkig het die profete van ouds ‘n honderd persent rekord gehad. Die ware profete het nooit die boodskap van die Here verkeerd gekry of nie behoorlik gehoor nie. In Jeremia 23:16 waarsku die Here ons teen vals profete: “So sê die Here die Almagtige: Julle moenie luister na wat die profete sê nie, die profete wat vir julle as profete optree. Hulle wek vals verwagtings by julle, hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie.”

Ons taak is om na die Woord van God te luister. Sy gebooie en woorde wat destyds deur die profete en apostels vir ons opgeteken is, is vandag steeds die waarheid. Sy woorde is foutloos aan ons gegee. Ons gebruik dit soms verkeerd, maar die Goeie Herder is altyd daar om ons, solank as wat ons Hom volg, op ons lewenspad te help. Dit is die kernbeginsel van dissipelskap.

Ons kan egter nooit vergeet dat die duiwel ook altyd daar is nie, maar net te gewillig om ons te laat struikel. Dit is hoe dit is. Hy beoefen sy listighede reeds vir millennia. Hy ken ons swakhede, neigings en vrese. Hy sal atyd probeer om deur sy boosheid ons weg te skeur van die Herder en sy Woord.

En dit is dikwels in sulke tye wat ons God se goedheid en genade betwyfel. Is dit miskien omdat ons nie die Bybel gereeld lees nie dat ons God se hart en sy karakter nie werklik verstaan nie? Is dit die rede waarom ons soms al daardie ander stemme en leuens toelaat om ons te beïnvloed? Die goeie nuus is dat dit nooit te laat is om die Bybel beter te verstaan nie. Ons kan vandag nog begin.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u onfeilbare Woord wat ons op die regte pad hou. Ons dank U ook vir u genade wanneer ons soms u woord nie duidelik hoor nie en dit dan verkeerd in ons lewens toepas. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS