Bible Society of South Africa

Tyd loop eendag uit - 30 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

16Verder het ek in hierdie wêreld gesien:

waar daar reg moet geskied, is daar onreg;

waar daar geregtigheid moet wees, is daar oortreding.

17Ek het by myself gedink: God spreek reg oor regverdige en onregverdige; daar is 'n tyd vir elke saak, ook vir wat in die regspraak gebeur.

PREDIKER 3:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Prediker het ons begelei om diep na te dink oor ons lewens. Die Here het ‘n tyd, en ‘n manier vir alle dinge bepaal. Tog het Hy die mens keuses gegee, om in te val by sy plan, of nie. Wanneer die Prediker praat van die reg, dan praat hy van mense wat in harmonie met God se tyd en planne probeer lewe. Geregtigheid vind plaas wanneer ons verhouding met die Here reg is. Die wêreld was bedoel om ‘n plek van seën te wees, waar die mens in verhouding met God lewe. Daar waar mense die Here dien, gebied Hy sy seën. Maar in hierdie wêreld is daar steeds baie onreg. Mense oortree teen die wil van die Here. Hulle mis die doel waarvoor die Here die mens gemaak het. Wat sou dit beteken? Die Here het ons as verhoudingsmense gemaak, om in ’n liefdevolle verhouding met Hom en mekaar te lewe.

Dit lyk asof die mensdom ongestoord voortgaan op die pad wat elke mens gekies het. Dit lyk vir ons asof daar geen verskil in die gang van die ewigheid is of ek nou die Here dien of nie. Hierdie gedeelte sluit af met die waarskuwing dat daar ook ‘n tyd sal kom waar die Here reg gaan spreek oor elke mens. As ons die laaste paar verse van die hoofstuk bylees, sien ons dat mense nie beter af is as diere nie – ons almal gaan eendag sterf. Daar kom ‘n einde aan ons lewens. Ons kan nie nou al sien wat die uitwerking van die dood gaan wees nie. Die laaste vers vat die hele hoofstuk mooi saam: “Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk; dit is wat hom toekom. Wie kan hom laat sien wat ná hom sal gebeur?” (Prediker 3:22)

Ons lewe een keer. Elke dag is ‘n geskenk uit die hand van die Here. Ons het nie altyd ‘n keuse oor wat met ons gebeur nie. Maar ons het altyd beheer oor hoe ons kies om op elke insident te reageer. Ons kan kla oor alles wat ons nie het nie of ons kan vreugde vind in elke dag se klein dingetjies. Ons is baie geseënd wanneer ons die Here in ons alledaagse lewe raakloop, en inval by sy planne vir ons lewens. Die Here se bedoelings vir sy kinders se lewe is goed. Mag ons ure, dae, maande en jare vreugde bring, in die uitleef van elke dag tot sy eer.

Gebed: Here, dankie dat U met my ‘n pad stap, hier en nou. Ek verstaan nie altyd die groter gang van die lewe nie. Ek verstaan nie al die vraagstukke wat opduik in my lewe nie. Al wat ek vra, is dat U my die wysheid en die insig sal gee om U vandag met vreugde te dien. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS