Bible Society of South Africa

In pas met God: Ons geloofsreis - 1 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

6Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, 7want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.

2 KORINTIËRS 5:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit is Desember en komende Sondag is dit die begin van die Adventseisoen. Dit is ‘n baie spesiale tyd van geloof en afwagting en ons gaan daagliks die tema “In pas met God” oordink. Terwyl ons elke dag oor die dag se teksvers nadink en die geloofsvervulde karakters wat jaarliks tydens Advent hulle verskyning maak opnuut verwelkom, is ons uitdaging om te verseker dat ons in pas met God is sodat ons in die geloof kan groei. Paulus herinner ons dat: “Nou sien ons wel ‘n geheimnisvolle beeld, soos in ‘n spieël, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek slegs gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is.” (1 Korinthiërs 13:12)

God is die enigste Een wat alles van begin tot einde ken en wat ons ten volle ken. Wanneer ons Hom volg, sal ons Hom en sy weë beter leer ken, en Hy sal ons lei om op Hom te fokus en volgens sy wil te leef.

Wanneer ‘n mens sien wat dit verg om sukses in die alledaagse lewe te behaal, besef jy dat niks per toeval gebeur nie. Daar moet daaraan gewerk word en daar moet ‘n “baasbrein” wees wat die plan ken en dit aan die res van ons kan oordra. Sukses, van begin tot einde, hang af van hoe toegewyd ‘n persoon is en hoe gewillig daardie persoon is om te leer.

Dansers wat ‘n roetine uitvoer, is ‘n baie duidelike voorbeeld van samewerking wanneer hulle perfek tyd hou en ‘n pragtige dans uitvoer. Dit is ook die geval met soldate wat tydens ‘n militêre parade met presisie marsjeer. Maar in die geval van ‘n klomp woeste rugbyspelers op ‘n veld, is hierdie samewerking meer subtiel – die span wat in pas met hulle afrigter en met mekaar is, wen gewoonlik die wedstryd.

Dit is dieselfde wat ons verhouding met God betref. Ons sien Hom miskien nou nie en ons verstaan ook nie alles nie, maar wanneer ons besluit om, ten spyte hiervan, die pad saam met Hom te stap, sal ons geloof groei. Soos rugbyspelers moet ons die Afrigter vertrou en sy leiding volg, en ons moet “deur geloof [en] nie deur aanskoue” leef as ons enigsins saam met Hom wil stap. Dit het betrekking op alles nou en tot in ewigheid.

Wat Paulus in vandag se tekvers vir die Korinthiërs vertel, het direk betrekking op ons begrip van ‘n ewige God en wat dit beteken om Hom volkome te vertrou. Ons moet “nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig.” (2 Korinthiërs 4:18)

Hoe ver is jy met jou geloofsreis?

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die prag van u Gees wat so duidelik na vore kom in hierdie Adventseisoen. Help my om elke dag te groei terwyl ons uitsien na die koms van die die kosbare Baba van Betlehem, die Koning van alle konings. Help ons om dit te doen op ‘n manier wat U waardig is en wat tot ‘n verdieping van ons geloof sal lei. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS