Bible Society of South Africa

Die wêreld is deurmekaar, maar God is in beheer - 29 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

14Ek het tot die insig gekom dat wat God doen, blywend is:

jy kan daar niks byvoeg nie

en jy kan daar niks van wegneem nie.

God doen dit sodat die mens vir Hom ontsag sal hê.

15Wat is, was reeds.

Wat kom, was ook alreeds.

God laat weer gebeur wat vroeër gebeur het.

PREDIKER 3:14-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons lewe in ‘n wêreld vol menslike planne. Party is baie goed – daar is mense wat hard werk daaraan om die lewe vir ander beter te maak. Daar is mediese navorsers wat alles in die stryd werp om gevreesde siektes te oorwin. Daar is tegnologiese navorsers wat die toekoms makliker wil maak. Elon Musk wil die menslike spesie na ander planete toe vat. Daar is ook bose planne, diktators wat al groter koninkryke met geweld wil inpalm. Daar is terroriste wat die volgende terreurdade beplan om soveel as moontlik mense seer te maak. Ja, ons leef maar in ‘n deurmekaar wêreld, en baie van die lyding wat plaasvind word veroorsaak deur die mens se ambisies en planne. Uiteindelik kom daar van al die mens se planne niks, dis ‘n gejaag na wind, sal die Prediker telkens in ander teksverse sê. Dit wat ons doen, goed of sleg, se effek is tydelik. Eendag is ons dood, en is ons planne daarmee heen.

Teenoor die voorlopigheid van die mens se bestaan stel die Prediker die weë van God. Die Here het die hemel en aarde geskep. Hy onderhou dit. Die sterrestelsels bly in ‘n asemrowende orde in hulle wentelbane. Sterre brand uit, en nuwe sterre word gebore. Daar is nog so baie van die heelal wat ons mense moet ontdek en leer verstaan. In hierdie groot heelal pas die aarde in as ‘n baie klein planeet, derde enetjie van ons son af. In die gang van die ewigheid lewe ons op hierdie planeet vir sewentig tot tagtig jaar. Daar is so min wat ons regtig verstaan. Daar is so baie vrae wat opduik oor die rol van die Here in die verloop van my lewe. Wat is regtig sy wil, en wat is die gevolge van keuses wat ek self maak? Ons weet nie altyd nie.

Die Prediker het die vermoë om ons te laat dink oor al hierdie dinge. Ons word gelei om uiteindelik te erken: daar is baie wat ons nie weet nie. Ons kry ontsag vir die Here. Ons leer om afhanklik van Hom te lewe, en om Hom te vertrou vir vandag se brood, en vir my hoop op die toekoms. Die Prediker sê daar is niks nuut onder die son nie. Die uitdagings vir menslike bestaan bly dieselfde. Die troos daarin is dat niks wat oor ons pad kom, vir die Here verrassend is nie. Hy kan dit hanteer. Hy kan sorg en seën. Die Here is groot, en Hy is goed.

Ek kies om Hom te vertrou, al verstaan ek nie alles waarmee Hy besig is nie.

Gebed: Here, dankie dat U die God van die eeue is. Dankie dat niks in hierdie wêreld, of wat ook al oor my pad mag kom, vir U ‘n verrassing is nie. Dankie dat ek maar mens mag wees, klein en nietig, en redelik onbewus van die gang van die ewigheid. Dankie dat ek my lewe in u groot hand mag neerlê, en op U vertrou vir my vandag, en vir my toekoms. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS