Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel wat geduldiger as ons was: Simeon en Anna - 22 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

28het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:

29“Here, laat u dienaar nou

in vrede gaan volgens u woord,

LUKAS 2:28-29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Op die besige tempelterrein, tussen al die jong ouers wat gekom het om hulle kindjie met vreugde en blydskap aan die Here te wy, was daar twee persone wat uitgestaan het. Simeon en Anna, beide bejaard en beide steeds wagtend op die koms van die Verlosser.

Simeon word beskryf as “wetsgehoorsaam en toegewyd” en hy het “uitgesien na die herstel van Israel” (Lukas 2:25). Hy het ‘n belofte van die Heilige Gees ontvang dat hy nie sou sterf voordat hy die Messias gesien het nie. Vir jare het hy gewag, God se teenwoordigheid gesoek, sy Woord bestudeer en geglo dat hierdie belofte eendag vervul sou word.

Anna, ‘n profetes in haar tagtigs, het ook dekades in die tempel deurgebring waar sy die Here aanbid en gevas het. Haar lewe het, selfs na jare van weduweeskap, van geduldige toewyding getuig. Haar toewyding aan God was onwankelbaar, en sy het elke geleentheid aangegegryp om haar hoop dat die Messias sou kom, met ander te deel.

Toe die oomblik uiteindelik aanbreek, en Maria en Josef die baba Jesus na die tempel bring, is beide Simeon en Anna se geduldige geloof beloon. Simeon het die Babatjie in sy arms geneem en God geloof, want hy het geweet dat die belofte vervul is. Anna het ook die belangrikheid van dié oomblik besef en “God gedank, en met almal wat na die bevryding van Jerusalem uitgesien het, oor die Kindjie gepraat.” (Lukas 2:38)

Simeon en Anna het nie bloot net gewag vir God se beloftes om vervul te word nie. Hulle het God se teenwoordigheid gesoek en, ten spyte van die verloop van tyd, vas in hulle geloof bly staan.

Hulle voorbeeld daag ons uit om ook ons houding en geduld te ondersoek. Soek ons aktief na God se teenwoordigheid terwyl ons wag? Is ons in sy Woord geanker en glo ons dat sy beloftes vervul sal word? Vertrou ons sy volmaakte tydsberekening selfs wanneer ons dit nie ten volle begryp nie?

Net soos Simeon en Anna die Babatjie, die Verlosser, in hulle arms gehou het, kan ons ook uitsien na die vervulling van God se beloftes, want ons glo om gelowig en geduldig te wag nooit tevergeefs is nie.

Gebed: Vader van genade, help ons om in al die verskillende seisoene in ons lewens geduldig en gelowig te wag. Gee dat ons u teenwoordigheid sal soek, u tydsberekening sal vertrou en ons oor die vervulling van u beloftes sal verbly. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS