Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Johannes die Doper - 23 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

3Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het:

“Iemand roep in die woestyn:

Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.”

Johannes se reis het in die woestyn begin, waar hy ‘n lewe van eenvoud en afsondering gelei het. Sy voorbereiding vir sy sending was ‘n proaktiewe soeke na die wil van God. Hy verkondig ‘n boodskap van bekering; hy spoor mense aan om, in afwagting op die koms van die Messias, hulle tot God te bekeer.

Die woestyn was nie net ‘n fisiese plek waar Johannes hom bevind het nie; dit simboliseer ook die geestelike toestand van die mense. Sy geloof dring hom om maatskaplike norme en godsdienstige selfvoldaanheid uit te daag. Hy wys die weg na die Een wat ware verandering kan bring.

Alhoewel Johannes vurig en passievol die boodskap verkondig het, het hy ook soms, soos alle ander mense, uitdagings en twyfel beleef. Hy het egter vas in sy geloof bly staan. Selfs toe hy hom vir sy oortuigings in die tronk bevind, was hy getrou aan sy roeping. In sy donkerste uur van nood het hy boodskappers na Jesus gestuur om die identiteit van die Messias te bevestig.

In antwoord op Johannes se navraag het Jesus sy identiteit deur tekens en wonderwerke bevestig – Hy het siekes genees, blindes laat sien en gevangenes vrygemaak. Jesus se reaksie het nie net vir Johannes gerusgestel nie, maar dit het ook die impak van sy geduld, geloof en getroue voorbereiding beklemtoon.

Johannes die Doper se lewe getuig dat, wanneer ‘n mens uitdagings beleef, daar in geduldige geloof krag is. Uit sy voorbeeld leer ons dat getroue voorbereidings dikwels, selfs wanneer ons twyfel, volharding verlang. Net soos Johannes sy doel vervul het om die weg vir Jesus se bediening te baan, kan ons ook met geduld, geloof en getrouheid tot God se verlossingswerk in die wêreld bydra.

In ons lewens twyfel ons soms of ons beleef terugslae en uitdagings wat ons geloof toets. Johannes se verhaal laat ons egter besef dat ons geduldige gehoorsaamheid, selfs in moeilike omstandighede, ‘n diepgaande impak kan hê. Soos Johannes, moet ons ook ons lewens, en die lewens van diegene om ons, vir die teenwoordigheid van Christus voorberei.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die voorbeeld van Johannes die Doper, waaruit ons leer om, selfs wanneer ons twyfel of moeilike omstandighede beleef, geduldig te bly glo. Help ons om ons roeping aan te gryp en die paaie in ons lewens vir U gereed te maak. Ons bid dit in die Naam van u Seun. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS