Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel wat geduldiger as ons was: Mirjam - 17 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

Die lied van Mirjam

20Mirjam die profetes, suster van Aäron, het 'n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans. 21Mirjam het vir hulle voorgesing:

“Sing tot eer van die Here

omdat Hy hoog verhewe is.

Perd en ruiter

het Hy in die see geslinger.”

EKSODUS 15:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Aan die oewer van die Rietsee (Rooisee) het iets buitengewoons plaasgevind – ‘n vreugdeviering gelei deur Mirjam, die suster van Moses en Aäron. Hierdie oorwinningslied en dans was egter nie ‘n reaksie op ‘n enkele oomblik nie, maar ‘n hoogtepunt na jare van geduldige wag, vaste geloof en onwrikbare vertroue in God se beloftes.

Mirjam se reis deur die bladsye van die Bybel vertel van ‘n vrou met baie geduld. Sy het grootgeword in tye van teëspoed; sy het die onderdrukking van haar mense en die wonderbaarlike roeping van Moses om hulle na vryheid te lei, beleef. Sy het gewag vir God se plan om te ontvou. Sy het gesien hoe haar broer die farao konfronteer met God se opdrag “Laat my volk gaan”. Deur al die plae en swaarkry het Mirjam vas in haar geloof bly staan, selfs toe die pad baie onseker was.

En toe kom daardie oomblik van vryheid toe hulle deur die Rietsee getrek het. Terwyl die Israeliete droogvoets deur die see trek en sy gesien het hoe die Egiptiese leër verslaan word, het Mirjam uitbundig uiting gegee aan haar blydskap oor dit waarop sy met geloof en geduld gewag het. Na jare van wag het sy nou die Here met haar tamboeryn en sang geloof en gedank.

Haar gewilligheid om te wag, te vertrou en die swaarkry te verduur, het gelei tot uitbundige blydskap wat deur die geskiedenis resoneer.

Kom ons vier die Here se getrouheid, selfs voordat die waters geskei word, en kom ons vertrou dat Hy ons na die oorwinning sal lei. Mag ons geduld en blydskap, soos die van Mirjam, ander inspireer om saam met ons die lof van ons almagtige God te besing.

Gebed: Genadige Vader, help ons om geduldig ons omstandighede te verduur en vreugde te vind in u getrouheid. Soos Mirjam se geduld uiting gevind het in haar vreugde, gee dat ons lewens ook van u onfeilbare liefde en voorsiening sal getuig. In Jesus se Naam vra ons dit. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS