Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Moses - 16 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

12Op 'n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’ 13As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

EKSODUS 33:12-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gister het ons van Jogebed, Moses se ma, geleer en vandag kom Moses self aan die beurt. Sy reis word gekenmerk deur die feit dat hy die luukse lewe van die farao se paleis verlaat het om Israel uit slawerny na vryheid en die beloofde land te lei. Nadat God hom by die brandende doringbos geroep het, het Moses sy gemaklike en bevoorregte lewe in Egipte verlaat en hom by die onderdrukte Israeliete geskaar. Hy het die farao gekonfronteer, die ontsagwekkende krag van God se plae aanskou, en die Israeliete droogvoets deur die Rietsee (Rooisee) gelei.

Na al hierdie wonderbaarlike gebeure was Moses se reis egter nog lank nie verby nie. Die Israeliete se reis van 40 jaar in die woestyn was ‘n toets vir sy geduld en geloof. Te midde van hulle gemor, skelmstreke en voortdurende bevraagtekening van sy gesag, het Moses standvastig gebly in sy vertroue op God. Keer op keer het die Israeliete getwyfel dat God deur sy genade vir hulle sou voorsien en na hulle ou lewe in Egipte verlang eerder as om op sy belofte vir ‘n beter toekoms te vertrou.

Deur dit alles het Moses die Here se instruksies met buitengewone geduld gevolg, en sy wysheid en leiding gesoek. In oomblikke van frustrasie het hy hom in gebed tot God gewend, soos vandag se teksvers dit baie duidelik maak.

Moses bely sy groot verantwoordelik om die volk te lei en hy pleit by die Here om sy paaie en sy teenwoordigheid aan hom bekend te maak. Moses erken dat slegs deur God te ken, kan hy voortgaan om die volk te lei.

Moses se geduld gedurende sy reis is ‘n waardevolle les oor deursettingsvermoë, nederigheid en oorgawe aan God se tydsberekening. Moses het vier dekades vol uitdagings verduur, en tog het hy nooit God se getrouheid en die uiteindelike belofte van die beloofde land, uit die oog verloor nie.

Mag God gee dat ons, soos Moses, deur gebed krag sal ontvang en guns in God se oë sal vind.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die blywende voorbeeld van Moses se geduld gedurende sy reis. Maak u paaie aan ons bekend sodat ons U beter kan leer ken en guns in u oë kan vind. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS