Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Timoteus - 30 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

12Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.

1 TIMOTEUS 4:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

As ‘n jong man in ‘n leierskapposisie, het Timoteus unieke uitdagings gehad. Hy het die evangelie verkondig in ‘n wêreld waar ouderdom en ondervinding dikwels aan gesag gelyk gestel is. Tog is Paulus se raad aan Timoteus, “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie”, ‘n tydlose waarheid. Timoteus se geduldige geloof en onwrikbare toewyding aan Christus is kwaliteite ver bo wat van so ‘n jong persoon verwag word.

Timoteus het teenstand beleef, hy moes kritiek verduur en die gewig van sy verantwoordelikhede dra. Hy is ‘n voorbeeld vir medegelowiges in woord, gedrag, liefde, geloof en reinheid. Sy geduldige volharding getuig van sy vaste geloof en sy begeerte om in alles wat hy doen Christus te eer.

Paulus moedig Timoteus aan om hom “daarop toe [te] lê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee” (1 Timoteus 4:13), en dit beklemtoon Timoteus se toewyding aan sy bediening. Ten spyte van uitdagings en struikelblokke, het Timoteus toegewyd gebly, sy gawes gekoester en die liggaam van Christus nederig en geduldig gedien.

Timoteus se geloofsreis laat ons besef dat ouderdom nie die bepalende faktor vir geestelike volwassenheid en ‘n effektiewe bediening is nie. Geloof en geduld, nederige diens en ‘n opregte toewyding aan ‘n roeping van Christus, is eienskappe wat ouderdom en omstandighede oortref. Net soos Timoteus se gelowige diens ‘n blywende impak gehad het, kan ons geduldige volharding en toewyding aan die evangelie ook ‘n diepgaande verskil in die lewens van ander maak.

Soos Timoteus, beleef ons ook soms teenstand en uitdagings, maar ons toewyding aan die roeping van Christus bemagtig ons om met vaste geloof voort te gaan. Kom ons streef daarna om ‘n voorbeeld te wees in woord, gedrag en liefde, en mag ons geduldige getrouheid ander inspireer om Christus te volg.

Gebed: Vader vol genade, gee aan ons die krag om vir ander ‘n voorbeeld te wees, en in alles wat ons doen liefde, geloof en nederigheid te bewys. Gee dat ons lewens u genade en waarheid sal weerspieël. In Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS