Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Stefanus - 31 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

55Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.

HANDELINGE 7:55AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie reeks oor mense in die Bybel met merkwaardige geduld, word afgesluit deur ons aandag op Stefanus te vestig – ‘n man wie se geduld, geloof en onwrikbare moed te midde van uitdagings en teëspoed, helder skyn. In Handelinge 6:8-7:60 lees ons van Stefanus se onwrikbare toewyding aan die evangelie, selfs te midde van vervolging en die uiteindelike opoffering.

Stefanus se verhaal begin waar hy gekies is om in die vroeë Christelike kerk te dien en te help om die weduwees en die armes te versorg. Sy bediening het egter gou bo praktiese hulp gegroei en hy het, aangevuur deur die Heilige Gees, die evangelie verkondig. Ondanks die teenstand van sommige godsdienstige leiers, het Stefanus vas bly staan, geanker in sy geloof en nie bang om die waarheid te verkondig nie.

Toe hy voor die Joodse Raad verskyn, kom Stefanus se geduld en geloof baie duidelik na vore. Instede van om homself te verdedig, het hy die evangelie kragtig verdedig – ‘n verdediging wat die geskiedenis van God se getrouheid aan sy volk uitgespel het. Hy het die verhaal van hulle voorvaders se reis vertel en hulle mislukkings sowel as God se genade beklemtoon. Stefanus se toespraak getuig van sy diepe begrip van die Skrif en sy onwrikbare vertroue in God se plan.

Te midde van die toenemende teëstand, het Stefanus met geduld vas in sy geloof bly staan. Ondanks al die vals aantygings en woede, het hy kalm gebly en op sy boodskap gefokus. Hy het “opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.” (Handelinge 7:55) Stefanus se geduldige volharding, selfs toe hulle hom gestenig het, weerspieël Christus se geduld.

Stefanus se verhaal vra van ons om die diepte van ons eie geloof te ondersoek, asook die geduld wat ons te midde van teëspoed bewys. Sy laaste woorde eggo Jesus se woorde aan die kruis: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” (Handelinge 7:60). Dit getuig van ‘n hart vol deernis en vergifnis.

Mag hierdie verhaal ons laat besef dat geduld gaan nie net oor volharding nie, maar oor hoe ons, ondanks omstandighede, in ons geloof vas bly staan en God se plan vertrou.

Gebed: Hemelse Vader, ons is so dankbaar vir manne en vroue wat ons vooruit gegaan het se voorbeelde van geloof en geduld. Help ons om krag te put uit hulle verhale, om te midde van uitdagings u plan te vertrou, en moedig u waarheid met ander te deel. Gee dat, soos Stefanus, ons lewens van geduldige volharding en vaste geloof sal getuig. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS