Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Paulus - 29 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

23Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar.

2 KORINTIËRS 11:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus se geloofsreis was alles behalwe maklik. In sy reise om die evangelie te verkondig moes hy teenkanting, vervolging en swaarkry verduur. Diegene wat sy boodskap teëgestaan het, was vyandig en Paulus is soms vir sy toewyding aan Christus fisies leed aangedoen.

In 2 Korintiërs 11:16-33 lys Paulus openhartig die beproewinge wat hy ter wille van die evangelie moes verduur. Hy vertel van ‘n lewe waar hy dikwels in die tronk was, geslaan is en skipbreuk gely het – en tog, te midde van al die lyding, getuig sy geduldige volharding steeds van sy vaste geloof in Christus.

Paulus het homself nie net eenvoudig aan sy omstandighede oorgegee nie, maar aktief in God se doel bly glo. Hy het geweet dat sy ondervindinge nie lukraak en doelloos was nie; dit was noodsaaklik vir die verspreiding van die evangelie. Sy lyding het, eerder as om hom af te skrik, ‘n middel geword waardeur selfs meer mense met die evangelieboodskap bereik is.

Paulus se lewe is ‘n merkwaardige getuienis van geduld, volharding, en onwrikbare toewyding aan die evangelie. En net soos Paulus se geduldige volharding die impak van die evangelie versterk het, kan ons geduld en geloof ook te midde van al ons uitdagings eer aan God bewys.

Terwyl ons nadink oor Paulus se geduldige volharding, laat ons krag put uit sy voorbeeld. Laat ons, geanker in ons vaste geloof, ons beproewinge hanteer. Mag ons, soos Paulus, verby ons omstandighede kyk en vertrou dat God besig is om, selfs te midde van lyding, die doel van ons lewens te volbring. Deur ons geduld en vaste geloof kan die lig van die evangelie helder skyn en ander lewens aanraak en verander.

Gebed: Hemelse Vader, help ons om geduldig in ons geloof te wees, want ons weet dat U deur en in ons uitdagings werk. Skenk aan ons die krag om alles te verduur, die moed om te volhard, en die vaste geloof om verby ons huidige omstandighede te kyk. Ons bid dit in die Naam van u Seun. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS